Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nóg vas oor bedrog met polisiemotors, blou ligte

’n Polisie-kolonel en ’n administratiewe beampte in diens van die polisie is onder die verdere verdagtes wat Vrydag in verband met grootskaalse tenderbedrog van R56 miljoen gearresteer is.

Altesaam 41 beskuldigdes sal nou Maandag in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte van onder meer bedrog, korrupsie, geldwassery en meineed.

Dit hou glo verband met ’n reuse-tender om onder meer handelsmerke, weerkaatsende merke en blou ligte op polisievoertuie aan te bring. Die burgerlikes wat aangekeer is word daarvan verdink dat hulle omkoopgeld betaal het sodat die tenders aan hulle toegeken word.

Die polisie en die ondersoekdirektoraat van die nasionale vervolgingsgesag het Sondag in ’n gesamentlike verklaring gesê drie mense, ’n kolonel, ’n administratiewe beampte by die polisie se voorsieningskettingbestuur-afdeling en ’n lid van die publiek is Vrydag gearresteer.

Nog twee mense, wat reeds in Junie in verband met die saak gearresteer en op borgtog vrygelaat is, is ook weer aangekeer, die slag vir meineed omdat hulle glo tydens hul borgtogaansoeke onder eed gejok het oor vorige veroordelings teen hulle.

Daar was reeds aan die begin van September 38 verdagtes, waaronder polisiekapteins, ’n afgetrede adjudant-offisier en ’n afgetrede administratiewe polisieklerk, wat in verband met die ondersoek in die hof verskyn het.

Van hulle was aan die Silverton-polisiestasie verbonde.

Hulle is almal destyds op borgtog van R5 000 elk vrygelaat en die saak teen hulle is tot Dinsdag uitgestel vir verdere ondersoek.

Die drie verdagtes wat die afgelope Vrydag gearresteer is, sowel as die twee burgerlikes wat weer gearresteer is, sal Maandag na verwagting aansoeke om borgtog bring, voordat hulle Dinsdag saam met die res sal verskyn.

Genl. Khehla John Sitole, nasionale polisiehoof, het in die verklaring die arrestasies geloof en gesê: “Die arrestasie van ons eie (mense) moet ’n streng waarskuwing wees aan alle geregsdienaars om weg te bly van misdadige betrokkenheid en korrupsie. Hierdie jongste arrestasies wys dat ons daartoe verbind is om korrupsie te beveg”.

Adv. Hermione Cronjé, hoof van die ondersoekdirektoraat by die nasionale vervolgingsgesag, het bygevoeg dat haar span hul ondersoek sal volhou om die wat “die plundering van die stelsel georkestreer en aan deelgeneem het,” aan te keer.

Intussen het die arbeidshof ’n dringende aansoek van sewe van die beskuldigdes teen die polisie en die ondersoekdirektoraat met koste van die hand gewys.

Luidens die verklaring het die sewe mense met die hulp van hul vakbond, Popcru, ’n aansoek gebring dat die hof moet bevind dat die hangende dissiplinêre stappe teen hulle deur die polisie onregverdige arbeidspraktyke is.

Die arbeidshof het egter bevind dat dit nie die jurisdiksie het om met onvoltooide/hangende dissiplinêre prosedures in te meng nie.

Meer oor:  Tenderbedrog  |  Inhegtenisnemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.