Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Nooddienswerkers onder beleg’ tydens onluste

Nooddienswerkers is onder beleg. Dit blyk uit gevalle van geweld die afgelope paar dae in KwaZulu-Natal, en daarna in Gauteng, waarin verskeie beseer en op geskiet is. ’n Pantser-ambulans moes selfs ingeroep word om vasgekeerde pasiënte uit onlusgebiede in Johannesburg te ontruim.

Die Mfezi-pantserambulans is Sondagaand ingeroep om pasiënte uit die Hillbrow-gemeenskapsgesondheidsentrum te ontruim.

Maandagaand is ’n mediese noodreaksievoertuig naby Tembisa gekaap. JP von Benecke van Gauteng se mediese nooddienste het gesê die bemanning kon betyds weghardloop, terwyl die kapers die noodvoertuig aan die brand gesteek het.

“Nie eens in oorlogstyd mag ’n mens nooddienswerkers aanval nie. Dis ’n oorlogsmisdaad onder die Geneefse verdrag,” het hy ontsteld gesê.

Met slaap wat reeds weens die Covid-19-pandemie ’n luukse is, loop talle nooddienswerkers se “keelvol-emmers” oor, merk ’n ander paramedikus op wat sedert Sondag verskeie kere “moes dekking slaan” omdat daar op hulle geskiet is terwyl hulle mense wou help.

Von Benecke voeg by: “Dit is crazy. Ek het in my lewe nog nooit soveel trauma en geweld gesien nie. En ons was al klaar moeg net van die Covid-situasie.”

’n Paramedikus van Netcare 911 het Maandag vanuit KwaZulu-Natal laat weet: “Ons word aangeval. Jy kan die skote hoor soos ek praat. Dit is mal!”

Shawn Herbst, woordvoerder van die Netcare 911-nooddiens, het bevestig dat hulle baie oproepe om mediese hulp ontvang – geweldverwant, maar ook ander ongevalle.

“Maar Durban is eintlik omsingel. Alle roetes in en uit is afgesper.”

Netcare 911-bystandnoodvoertuie volg ook die polisie omdat talle geregsdienaars deur klippe en ander voorwerpe beseer word terwyl hulle die oproeriges probeer verdryf.

“Dan is ons dadelik daar om te kan help,” het Herbst bygevoeg.

Die pantserambulans het die pasiënte na die Hillbrow-polisiestasie geneem, van waar hulle dan deur gewone ambulanse na ander hospitale vervoer is.

'Hel bars los'

In Gauteng het die “hel” Sondag “losgebars”.

Teen Maandag was die situasie so erg dat sekere nooddienste aangedui het hulle kan dit nie meer in brandpunte in Gauteng, veral die Johannesburg- en Ekurhuleni-omgewing, waag nie.

“Ons ambulanse word bedreig en personeel geïntimideer terwyl hulle kritiek siek pasiënte soos pasgeborenes en kraamgevalle vervoer. Ons hospitale en noodgeriewe is onder geweldige druk en die voortspruitende trauma wat noodwerkers tydens hierdie onrus ervaar, plaas ongelooflike druk op ’n reeds beperkte stelsel,” het die amptelike boodskap op groepe gelui.

Die publiek is versoek om pasiënte na hul naaste polisiekantoor te neem of na ’n veiliger omgewing waar die nooddiens hulle kan ontmoet.

Von Benecke sê daar was sedert Sondagoggend al ’n “absolute chaos”.

Nooddienste, insluitende die brandweer, moes saam met die polisie en metropolisie koördineer hoe om noodgevalle in die geweldsones te hanteer.

Noodpersoneel is gewaarsku om ander roetes te gebruik omdat daar op baie hoofpaaie klippe en brandende bande gepak is.

Kort daarna is ’n ambulans wat vanaf Germiston gery het op ’n hoofweg met klippe bestook en beskadig.

Teen die aand is talle nooddienswerkers na omgewings soos Hillbrow, Joubert Park, Jeppestown, Alexandra en die Johannesburgse middestad ontbied.

Gauteng se mediese nooddienste se Mfezi, ’n pantserambulans, is ingeroep toe paramedici weens die geweld in Johannesburg nie by mense kon uitkom nie.

Pantserambulans ingeroep

In een so ’n geval moes Von Benecke-hulle Sondagaand help om meer as 20 pasiënte en personeellede uit die Hillbrow-gemeenskapsgesondheidsentrum te verwyder.

Daar is egter op die ambulanse van die Gautengse mediese nooddienste geskiet toe hulle die gesondheidsentrum nader.

Van Benecke moes die nooddiens se pantserambulans, Mfezi, ontbied. Terwyl die gewone ambulanse tot by die Hillbrow-polisiekantoor teruggetrek het, waar dit veiliger was, het die Mfezi-ambulans deur oproeriges en versperrings na die kliniek deurgedruk.

Dié ambulans kan vier persone op draagbare en agt sittende persone akkommodeer. Toe die voertuig vol was, is die pasiënte na die polisiekantoor geneem, van waar ambulanse hulle na hospitale vervoer het.

In Durban het lede van die Netcare 911-nooddienste polisiebussies soos skaduwees gevolg om dadelik te kan help sodra ’n polisielid beseer word.
Polisiebussies staan by ’n kruising in Durban terwyl die lede oproeriges verjaag. Die Netcare 911-nooddiens was op hul hakke om te help met enige ongevalle.

Die pantserambulans het dan die volgende groep gaan oplaai.

“Ons moes wel ’n kritieke pasiënt met die ICU-ambulans uitsmokkel, want hy was besig om dood te bloei en ons moes ’n kans waag – wat gelukkig gewerk het,” voeg Von Benecke by.

Terwyl dié spesialis-ambulans weg was, was daar nog ’n pasiënt met ’n wond in die bors wat “gevaarlik vinnig” bloed verloor het.

Een paramedikus het summier sy hand in die persoon se gapende borskas gedruk en die aar toegedruk totdat die spesialis-ambulans teruggekeer het.

Twee ander noodwerkers moes, terwyl die skote om hulle klap, saam met polisielede na ’n ongeval hardloop waar “ ’n mes uit die pasiënt se gesig gesteek het”.

Die manne en vroue sê dit was ’n spanpoging tussen nooddienste en die polisie en metropolisie, wat “ons ten alle koste beskerm het”, om lewens te red.

Teen Maandagoggend het net die Gautengse mediese nooddienste alleen twee mense weens skietwonde dood verklaar.

Hulle het nog sewe met skietwonde, nege met steekwonde, ’n voetganger wat deur ’n kar raak gery is en ’n epilepsie-geval na hospitale vervoer.

Meer oor:  Gauteng  |  Kwazulu-Natal  |  Johannesburg  |  Zuma-Geweld  |  Plundery En Geweld  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.