Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Noordwes: Moorde styg effens, transitoroof daal skerp

Pierre Bruwer (73) het sedert die moord in Februarie vanjaar op sy vrou, Gezina (69), sy plaas op die Botswana-grens in Noordwes uitverhuur en na Potchefstroom verhuis.

Gezina en Pierre Bruwer ’n paar jaar gelede in hul plaashuis in die Vorstershoop-omgewing in Noordwes, waar Gezina in Februarie in ’n rooftog doodgeskiet is. Foto: Alet Pretorius

Bruwer was dekades lank ’n bekende veeboer in die Vorstershoop-omgewing. Hy en Gezina was 46 jaar getroud.

“Dis nie dat ek nou bang is om op die plaas te woon nie, maar ek sien nie kans om alleen daar te woon terwyl die herinneringe aan my vrou oral is nie,” het Bruwer Donderdag gesê.

“ ’n Huis is wat ’n vrou daarvan maak.”

Twee mense, onder wie ’n man wat vir Bruwer gewerk het, is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hulle is nog in aanhouding terwyl die saak verder ondersoek word en die polisie na ander verdagtes soek.

Gezina is een van 961 mense wat vanaf April 2018 tot Maart 2019 in Noordwes vermoor is. Volgens die polisie se jongste misdaadstatistiek, wat Donderdag bekend gemaak is, is 11 mense meer as in die vorige boekjaar vermoor. Dis ’n styging van 1,2%.

Bankrooftogte en kommersiële misdrywe is die misdade wat die meeste toegeneem het sedert die vorige boekjaar. Kommersiële misdrywe het met 37,7% toegeneem – van 3 744 tot 5 155.

In die jongste boekjaar was daar twee bankrooftogte teenoor die vorige jaar se een. Dis ’n toename van 100%.

Transitorooftogte is die misdryf wat die meeste afgeneem het – met byna 56% – van 23 tot 10 voorvalle.,

Veediefstal is ook ’n groot kopseer in Noordwes met sy baie plase en landboubedrywighede. Dit het egter nie so skerp toegeneem soos in die vorige boekjaar nie. In 2018-’19 was daar ’n 3,2% toename sedert die vorige boekjaar. In die boekjaar voor dit het veediefstalle met 8% gestyg.

In die jongste boekjaar was daar twee bankrooftogte teenoor die vorige jaar se een. Dis ’n toename van 100%.

Sommige kontakmisdade het afgeneem, met ’n 3,8%-afname in seksuele oortredings. Verkragtings spesifiek het met 3% en seksuele aanrandings met 1,2% afgeneem.

Algemene aanrandingsvoorvalle het egter met 10% gestyg. In 2018-’19 was daar 8 611 voorvalle, teenoor die vorige boekjaar se 7 828.

Roof met verswarende omstandighede het met 2,7% toegeneem. Daar was in die jongste boekjaar 7 023 voorvalle.

Daar was egter ’n taamlike skerp toename van byna 13% in sowel huisrooftogte as motorkapings. Inbrake by huise en ander plekke het ook met tussen 1% en 3% toegeneem.

Meer oor:  Pierre Bruwer  |  Noordwes  |  Transitoroof  |  Moorde  |  Misdaadstatistiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.