Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Norma en Malusi Gigaba se bootjie kantel gevaarlik

Norma Gigaba, die vrou van die pierewaaier- voormalige minister van finansies Malusi Gigaba, is Saterdagmiddag op borgtog van R5 000 vrygelaat nadat sy die nag in die polisieselle deurgebring het.

Malusi en Norma Gigaba in 2018.

Die Valke het haar Vrydag in hegtenis geneem op aanklagte van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging. Sy het glo vir Gigaba aangerand en ’n vriend van hom se duur Mercedes beskadig.

Die Valke se betrokkenheid by haar inhegtenisneming het baie kritiek ontlok omdat dit op die oog af eintlik maar huismoles is.

Norma se inhegtenisneming volg kort nadat ’n brief gelek is waarin Luthuli-huis vir David Masondo, adjunkminister van finansies, aanspreek omdat hy die Valke “misbruik” het in ’n familiegeskil en “voorgestel” het dat hy weens dié misstap as adjunkminister bedank.

In ’n WhatsApp-boodskap, oënskynlik deur ’n polisieman geskryf, wat gister die ronde gedoen het, word beweer die klagte teen Norma is al in Mei vanjaar ingedien. TimesLive het gesê ’n polisiebron het die egtheid van die boodskap teenoor die nuusdiens bevestig.

Volgens die boodskap was die klaers Malusi Gigaba en Peterson Siyaya. Siyaya was in 2018 in die nuus toe hy saam met 12 ander mans, almal lede van die vakbond NUM, daarvan beskuldig is dat hulle ’n moord op leiers van die Amcu-vakbond beplan het. Die saak teen Siyaya en vier medebeskuldigdes is later teruggetrek.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het bevestig dat “ ’n voormalige minister” aangerand is, maar wou nie die name van die betrokkenes gee nie. Hy wou ook nie uitbrei oor die oudminister se beserings nie.

Norma het Gigaba glo aangerand.

City Press berig Gigaba het in Mei ’n sluipmoordkomplot teen hom by die Valke aangemeld, maar dat hy nie sy vrou by die komplot betrek nie.

’n Video het vroeër die week op sosiale media opgeduik van ’n Mercedes G Wagon – ’n vierwieltrekvoertuig wat sowat R3 miljoen kos – waarvan die ligte uitgeslaan is en die hele bakwerk gekrap is. Die voertuig behoort glo aan Siyaya, en hy het dit aan Gigaba geleen. In die video, wat in ’n motorhuis geneem is, kan die weerspieëling van ’n man met ’n bril en kaalkop vir ’n vlietende oomblik teen die bakwerk gesien word, maar dit is nie duidelik of dit Gigaba is nie.

Gigaba was al verskeie kere in die nuus weens sy ontrouheid.

Die video wat op sosiale media versprei is van die beskadigde Mercedes G Wagon.

Die sosiale vlinder Buhle Mkhize het in 2015 ’n ope brief op sosiale media gepubliseer waarin sy beweer het dat sy ’n buite-egtelike verhouding met Gigaba gehad het. In Oktober 2018, toe Gigaba minister van binnelandse sake was, moes hy verskoning vra nadat ’n solo-seksvideo van hom gelek is. Hy het destyds aangevoer die video was vir sy vrou, Norma, bedoel.

Malusi het egter kort daarna as minister bedank ná druk van pres. Cyril Ramaphosa oor ’n verdoemende uitspraak van die konstitusionele hof in die Fireblade-twis met die Oppenheimer-familie. Die hof het bevind dat hy in die hofsaak gelieg het.

Norma se inhegtenisneming deur die Valke was op dieselfde dag waarop ’n brief gelek is waarin die ANC se integriteitskomitee vir David Masondo vra om te bedank. Masondo het in 2019 die Valke gevra om ’n vrou wat sy gesin gedreig het in hegtenis te neem. Daar word beweer dat Masondo en die vrou ’n buite-egtelike verhouding gehad het. Masondo is ook hoof van die ANC se politieke skool.

Die ANC se integriteitskomitee sê Masondo se versoek aan die Valke kom neer op die misbruik van staatshulpbronne. Dit bring die party in oneer, luidens die brief.

“Ons hoop in die lig van die bogenoemde sal jy vrywillig bedank uit jou posisie sodat ons voorstel oorbodig is dat jy verwyder moet word van die posisie wat jy by die politieke skool beklee, sowel as dat jy bedank as adjunkminister van finansies,” lui ’n brief, gedateer 18 Julie. Die brief is gestuur deur George Mashamba, voorsitter van die integriteitskomitee.

So lyk ’n Mercedes G Wagon as hy heel is.

Masondo het Saterdag gesê hy het die verkeerde instansie genader vir hulp, en dat hy die kwessie in September 2019 by die integriteitskomitee aangemeld het. Hy sê dat sy regsverteenwoordiger voorgestel het dat hy die Valke nader. Masondo sê die vrou wat sy gesin gedreig het, het hom afgepers deur te beweer hy het haar gedwing het om ’n aborsie te kry.

Volgens Masondo is hy in November deur Mashamba meegedeel dat die saak afgehandel is, voordat die kommissie op 18 Julie ’n U-draai gemaak het. Hy erken egter dat hy ’n fout begaan het, maar het nie gesê of hy wel uit sy pos gaan bedank nie.

Gigaba is verlede jaar, kort nadat hy sy kandidatuur as ANC-parlementslid teruggetrek het, ’n voltydse pos in Luthuli-huis aangebied waar hy by die ANC se nasionale jeug-taakspan werk. Hy het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Norma Gigaba  |  Buhle Mkhize  |  David Masondo  |  Malusi Gigaba  |  Anc  |  Integriteitskomitee  |  Aanranding  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.