Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Nou vrees ek niks meer’

Die internasionale weltergewig-bokskampioen Chris van Heerden se grootste vrees was om sy pa te verloor.

Waar hy in Amerika woon, het hy gereeld gevrees dat hy die oproep sou kry dat sy pa, Danie (61), vermoor is, het hy Saterdag aan Rapport gesê.

Chris van Heerden (regs) en sy sibbes het Vrydag by hul pa se begrafnis gepraat oor die soort mens wat hy was. Foto’s: Deon Raath

Noudat sy pa doodgeskiet is, hét hy nie meer ’n vrees nie.

Danie is Vrydag vanuit ’n stampvol AGS-kerk in Meyerton, suid van Johannesburg, begrawe. Sy jarelange vriend, die swaargewig-bokser Jimmy Abbott, het die erediens gelei.

Abbot het oor die Sondvloed gepreek en herinneringe van sy vriend gedeel, soos dat Danie sy vriende sommer vriendskaplik gepot het as hulle nie hul vuiste omhoog gehou het nie.

Wyle Danie van Heerden

Chris (31), beter bekend in boks­kringe as The Heat, was een van min mense in die kerk wat nie gehuil het nie.

“My pa het altyd gesê ’n man huil nie,” het hy vasbeslote en emosioneel in die kerk gesê voordat hy bygevoeg het: “Ek sal my bes probeer, Pa.”

Gister, by ’n vriend se huis in Sandton, was hy nog meer vasbeslote toe hy verklaar het hy gaan sy bekendheid gebruik om buitelanders oor misdaad in Suid-Afrika in te lig.

Jan Bergman, weltergewig-bokskampioen, en Chris.

Chris bly al vyf jaar lank in Amerika en het onlangs ’n ooreenkoms met die bokspromotor Top Rank geteken.

Met sy baie aanhangers wil hy nou ’n punt daarvan maak om oor misdaad te praat.

“Ek gaan baklei . . . nie net vir wit mense nie, vir almal. Vir elke mens wat verandering in die land wil sien.”

Chris, wat die wêreldtitel op die ouderdom van 24 gewen het, sê sy bestuurder het reeds gesê hulle sal vir hom die platform gee om bewusmaking oor misdaad in Suid-Afrika te doen. “Want nou is ek ook deel van die statistieke.”

Jimmy Abbott, voormalige swaargewig-bokskampioen, wat deesdae ’n bediening het, het die begrafnisdiens gelei. By hom is Chris.

Danie is op 27 Desember na bewering deur Sabelo Dlamini, ’n veiligheidswag vir die Rooimiere, doodgeskiet tydens ’n hewige konfrontasie wat op video vasgelê en wyd versprei is.

Danie het Dlamini van diefstal beskuldig en sy bakkie se sleutel afgeneem. Dlamini ontken dat hy enigiets gesteel het en sê op die video Danie is besig om sy bakkie te kaap deur die sleutel af te vat.

Dlamini is Woensdag in die landdroshof in Vereeniging op borgtog van R5 000 vrygelaat.

Chris sê hy het al gewoond geraak daaraan om nie konstant vir misdaad te vrees nie.

“As ek nou (in Suid-Afrika) by ’n verkeerslig stop, wag ek vir iemand om my ruit uit te slaan.”

Chris sê sy pa was sy grootste ondersteuner. Hy het sy pa as “loud and proud” en grapperig beskryf. “In my pa se oë was ’n ding reg of weg.”

Sy pa was ook “ ’n man van die Bybel”. “Hy het baie vir ons Bybel gelees en gebid.”

Danie was baie geliefd onder mense. Chris glimlag wanneer hy vertel sy pa was “ ’n Casanova”.

“Hy het 13 kinders. Vroue het net verlief geraak op die mens wat hy was.”

Chris sê sy pa het hom altyd hard gedruk en hy het sy sukses net aan hom te danke. “Nou moet ek (in die kryt) meer gee as wat ek ooit gegee het.”

Meer oor:  Danie Van Heerden  |  Moord  |  Rooimiere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.