Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nuwe liefde ná die seer

Twee jaar gelede is Mariandra Heunis se man, Johann, voor haar op hul kleinhoewe noordoos van Pretoria doodgeskiet.

Mariandra Heunis het weer liefde gevind by Jonas Nilsson, ’n Sweedse vervaardiger van dokumentêre films, ná die moord op haar man. Foto: Deon Raath

Nou het sy weer liefde gevind – by ’n Sweedse aktivis wat haar leer ken het toe hy ’n dokumentêre fliek oor misdaad gemaak het.

Jonas Nilsson, wat Suid-Afrika sedert 2008 gereeld besoek vanweë sy aktivisme, het in Januarie vanjaar met Mariandra ’n onderhoud gevoer vir sy werk.

Hulle het daarna kontak behou en mekaar nog ’n paar keer ontmoet vir verdere onderhoude.

Nilsson sê hy het baie empatie met Mariandra gehad nadat hy gehoor het hoe Johann voor haar vermoor is, net dae voordat sy die lewe geskenk het aan hul jongste kind, AJ. Haar dogtertjie Mieke (8) het haar spaarbussie vir die rowers aangebied. Die rowers het Johann ses keer geskiet en toe gevlug met sy en Mariandra se selfone.

‘Dis of ek in my pa se spore loop.’

Dit was veral haar innerlike krag wat hom na haar aangetrek het, sê Nilsson. “Sy het haar moue opgerol en haar omstandighede hanteer.”

Mariandra sê haar vier kinders – Mieke, Misha (6), Majandré (4) en AJ, wat binnekort twee word, is baie opgewonde om “oom Jonas” hier te hê.

Nilsson is geskei en het nie kinders nie. Hy erken hy is redelik verbaas oor hoe tevrede die kinders is om hom hier te hê. Hy glo nie die kinders beskou hom as ’n pa-figuur nie, maar omdat hy self ’n aangenome kind is, begryp hy dat ’n rolmodel nie noodwendig ’n biologiese ouer hoef te wees nie.

“Dit is amper asof ek ’n bietjie in my pa se voetspore loop. Met ’n kinkel,” verduidelik hy.

Mariandra sê Nilsson inspireer haar in die manier waarop hy sy passie volg met sy aktivisme. “Ons het dieselfde dryfkrag. En dis lekker om weer te lag,” sê sy.

Mieke toon steeds trauma-simptome. Om haar hiermee te help het Nilsson vir haar ’n hond gekoop – ’n pekinees genaamd Bella.

Nilsson, wat ’n graad in politieke wetenskap het, erken hy is baie uitgesproke en nie neutraal oor plaasmoorde nie. “Op dieselfde manier wat die ANC Suid-Afrika regeer, regeer die Sweedse Demokrate Swede,” sê hy.

Mariandra sê sy glo Nilsson sou Johann se goedkeuring wegdra. “Hy het altyd vir my gesê hy wil hê ek moet gelukkig wees en hy sou gelukkig wees as ek gelukkig is.”

Oor die toekoms sê Nilsson hy wil definitief ’n kind van sy eie hê. Ook Mariandra twyfel nie ’n oomblik oor die moontlikheid van ’n toevoeging tot die gesin nie. “Ons het dit losweg begin beplan,” sê Nilsson. “Daar is sulke planne,” beaam Mariandra met ’n glimlag.

Mariandra het pas teruggekeer van Stockholm in Swede waar sy ’n praatjie oor plaasmoorde gegee het. Nilsson is volgende week ’n gasspreker op ’n TLU-konferensie in Pretoria.

Meer oor:  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.