Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nuwe tegnologie só teen transito-rowers ingespan
Gummy Malouw, een van iZiCash Solutions se veiligheidswagte, maak hier in ’n geldwa ’n verstelling aan die beheerpaneel van die nuwe kamerastelsel. Foto: Deaan Vivier

Desember is ’n besige tyd vir geldvervoermaatskappye, juis omdat daar soveel meer geld uitgegee word.

Daarom het ’n Gautengse maatskappy besluit om die nuutste tegnologie te gebruik om transitorowers die hoof te bied.

Grant Clark, woordvoerder vir die Kontant-in-transito-vereniging van Suid-Afrika (Citasa), het Donderdag gesê daar is vanjaar reeds 260 transitorooftogte aangemeld.

Hy het gepraat by die transitomaatskappy iZiCash Solutions se hoofkantoor in Pretoria, waar daar gewys is hoe die nuutste tegnologie in die bedryf teen transitorooftogte gebruik word.

“Dit is belangrik dat die kleinhandelsektor nou die geleentheid gegun moet word om die meeste van die feestyd te maak om te vergoed vir die verliese wat weens die pandemie gely is,” sê Albert Erasmus, uitvoerende hoof van iZiCash.

Dit beteken egter dat rowers ook die geleentheid sien om munt daaruit te slaan, sê Clark.

Arthur Matthee, beheerkamerbestuurder van iZiCash Solutions, kyk na die regstreekse beeldmateriaal van die binnekant van ’n geldwa. Foto: Deaan Vivier

Hy sê daar is beslis ’n kommerwekkende toename in hierdie rooftogte. Die syfers is egter nie naby aan dié van 2017 nie toe daar gemiddeld elke dag ’n transitorooftog was.

Hierdie jaar se syfers, ten spyte van die Covid-19-pandemie, is egter nie rede om gerus te wees nie, meen hy.

Hy sê Citasa speel hier ’n belangrike rol om die polisie te help en hulle met hul ondersoeke by te staan.

Dit is juis hierom dat hy hoop dat iZiCash ’n tendens in die bedryf sal stel met die veiligheidskameras wat hulle nou gebruik wat regstreeks beelde stroom na die beheerkamer van ’n transitomaatskappy. Die personeel in die beheerkamer kan nou vinniger die polisie in kennis stel van ’n rooftog, en inligting van die toneel is onmiddellik beskikbaar, al word die geldwa deur die rowers opgeblaas.

Nog ’n nuutjie is dat die kameras ’n beeld van 360 grade om die geldwa het. Daar is dus geen blindekolle wat die rowers kan uitbuit nie.

Die veiligheidswagte in die geldwa het self ook toegang tot die beeldmateriaal en kan dadelik alarm maak as hulle iets verdag opmerk.

“Kontant is steeds die lewensaar van die Suid-Afrikaanse ekonomie, juis te meer vir die kleinhandelsektor,” sê Erasmus.

Dit is daarom van kritieke belang om nie net die ekonomie te probeer red nie, maar ook die bedryf veiliger te maak.

Kontant word by iZiCash Solutions in Pretoria getel voordat dit na klante vervoer word. Foto: Deaan Vivier

“Rowers moet weet as hulle nou gaan probeer om ’n geldwa te beroof, hulle nie vir lank daarmee gaan wegkom nie,” sê Pieter Coertze, tak- en roetebeplanner by iZiCash.

Dit is sy verantwoordelikheid om seker te maak die bestuurders en veiligheidswagte van transitovoertuie weet waar en wanneer om klante se geld op te laai.

Oral om hom is beeldmateriaal van die personeel wat daagliks hul lewe op die spel plaas.

Gummy Malouw, ’n veiligheidswag, sê die stelsel help wel, al is transitorowers genadeloos.

“Soveel gesteelde voertuie is al teruggevind danksy een van ons wat ’n verdagte voertuig rapporteer,” sê hy.

“Dan is dit ’n goeie dag, want jy is vir nog ’n dag gespaar.”

Pieter Coertze, tak- en roetebeplanner van iZiCash Solutions in Pretoria, hou deurentyd ’n wakende oog oor die beeldmateriaal in die beheerkamer. Hierdie spesifieke beeldmateriaal is van personeel wat die geld tel voordat dit na klante vervoer word. Foto: Deaan Vivier

Meer oor:  Transitorowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.