Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Nuwejaar-aanvalle ‘net die begin van terreur in SA’
Die owerhede die oggend ná die skietery op die toneel by die Poppy’s-restaurant in Melville. Foto: Jamaine Krige/SAUK

Aanvalle soos dié op Nuwejaarsdag in Johannesburg “is net die begin van terreur in Suid-Afrika”.

So meen prof. Hussein Solomon, hoof van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se departement politieke studies en regeerkunde.

“Ek is bang. Melville (waar twee mense op Nuwejaarsdag by die restaurant Poppy’s doodgeskiet is) is klein vergeleke met dit wat kom. Ons verwag meer,” sê

Solomon, wat al vir langer as twee dekades terreurgroepe soos Isis, Boko Haram en Al-Kaïda bestudeer, sê dié organisasies slaan munt uit kwesbaarhede soos ekonomiese en politieke onstabiliteit in 'n land.

“Suid-Afrika het voor die koronaviruspandemie reeds ekonomies gesukkel en die pandemie het die ekonomie in duie laat stort. Weens korrupsie is daar ook nie politieke stabiliteit nie.

“Dit is wanneer hierdie groepe intree en stabiliteit aan mense bied. Hul komplekse netwerke laat hulle toe om goed soos veiligheid te verseker. Hulle verskaf werk aan jong mans en (tydens ’n pandemie) ’n behoorlike gesondheidstelsel en persoonlike beskermende toerusting (PPE). Mense se lojaliteit verskuif dan van die staat na dié groepe en die gevolge kan katastrofies wees,” sê Solomon.

SA ‘is nie Afganistan of Somalië’

Martin Ewi, hoofnavorser van die program vir internasionale misdaad en Afrika by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê dit is belangrik om die Suid-Afrikaanse konteks in ag te neem.

“Net omdat dit (die gebeure waarvan Solomon praat) in Afganistan of Somalië afgespeel het, beteken nie dit gaan ook hier gebeur nie. Net omdat daar terreurgroepe in Suid-Afrika is, beteken dit nie hulle gaan aanval nie.

“Hulle sal wel aanval as hulle bedreig word. Isis, wat nou besig is met ’n operasie in Mosambiek, het gesê Suid-Afrika moenie daar inmeng nie en as ons dit doen, is ek seker hulle gaan aanval,” sê Ewi.

Hulle sal wel aanval as hulle bedreig word. Isis, wat nou besig is met ’n operasie in Mosambiek, het gesê Suid-Afrika moenie daar inmeng nie en as ons dit doen, is ek seker hulle gaan aanval.

Prof. Theo Neethling, ook verbonde aan die UV se departement politieke studies en regeerkunde, sê hoewel terreuraanvalle al geruime tyd in Afrika plaasvind, is daar nog geen pertinente koppeling tussen die Melville-skietery en terreur nie.

“ ’n Verbintenis met Isis is hoegenaamd nie onwaarskynlik nie, maar ek sal graag nog meer sekerheid daaroor wil sien voordat ’n mens met stelligheid daardie koppeling maak.

“In die afgelope dekade was daar talle bloedige aanvalle in veral Wes- en Oos-Afrika met onderskeidelik Boko Haram en Al-Shabaab aan die voorpunt. Suider-Afrika was vir lank die streek in Afrika met die minste konflik en terrorismebedrywighede. Dit het nou vinnig verander met die voorkoms van terrorisme in die noorde van Mosambiek en in mindere mate met dit wat in Melville afgespeel het,” sê Neethling.

Terreur vir geld

Solomon sê dit is ook nie vreemd dat terreurgroepe betrokke raak by georganiseerde misdaad, veral vir winsbejag, nie. Hy sê hoewel dit nie onmoontlik is nie, is daar nog geen sekerheid dat terreur wel ter sprake was by die Nuwejaar-skietery nie.

Twee mense is dood en ses beseer toe ’n aanvaller vroegoggend op 1 Januarie vanuit ’n voertuig op partytjiegangers by die restaurant Poppy’s in Melville losgebrand het. Nog 11 mense is dieselfde oggend beseer toe vermoedelik dieselfde aanvaller ook vanuit ’n voertuig op partytjiegangers op die Mary Fitzgeraldplein in Newtown losgebrand het.

Twee mense is vroeër die aand in ’n skietvoorval by die Jolly Cool-kroeg en -restaurant in Parkhurst gewond.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, het vroeër gesê die polisie ondersoek die moontlikheid dat wapens wat gevind is by vyf mense wat onlangs ná ’n ontvoeringsvoorval in hegtenis geneem is, moontlik in die Melville-skietery gebruik is.

Die joernalis Barry Bateman het onlangs op eNCA berig ’n Isis-opleidingsboekie en -vlag is op die toneel gevind waar dié verdagtes in hegtenis geneem is.

Rapport het berig die nommerplaat van die voertuig waaruit skote op die drie plekke in Johannesburg geskiet is, is by die verdagtes gevind.

Naidoo het daarop klem gelê dat nie een van die verdagtes van terrorisme aangekla word nie.

Jasmine Opperman, ’n ontleder by Acled (Armed conflict location and event data project), ’n organisasie sonder winsbejag wat onder meer terroristebedrywighede in die land bestudeer, sê sy is versigtig om te sê dat Suid-Afrika se ekonomiese en politieke onstabiliteite sy risiko vir terrorisme vermeerder.

“Die Melville-voorval word nou met Isis verbind, maar ek kan jou belowe dit is nie hoe hulle optree nie. Ek sien tekens van georganiseerde misdaad en nie van terrorisme nie.”

Sy sê wel daar is ’n risiko dat daar mense op Suid-Afrikaanse bodem is wat die regering en die Grondwet met terreurdade sal verontagsaam.

As ’n mens kyk na hoe die land se veiligheidsmagte teen misdaad vaar, lyk dit nie asof hulle gereed gaan wees as daar ’n terreuraanval in Suid-Afrika is nie, meen Opperman.

Mava Scott, woordvoerder van die Staatsveiligheidsagentskap, sê hulle kan nie kommentaar lewer op tendense van terreur nie en kan ook nie inligting oor intelligensie-ondersoeke aan die publiek bekend maak nie.

Meer oor:  Melville-Skietery  |  Isis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.