Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
NVG bou saak teen twee senior aanklaers in NW

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) probeer ’n saak saamstel teen twee van sy senior aanklaers wat glo meelopers van die afgedankte vervolgingshoof adv. Nomgcobo Jiba was.

Adv. Moipone Noko, vervolgingshoof in Noordwes, in 2014 toe sy nog vervolgingshoof in KwaZulu-Natal was.

Rapport het verklarings gesien wat daarop dui dat die NVG se ondersoekdirektoraat (OD) klagte van bedrog en regsverydeling ondersoek teen adv. Moipone Noko, vervolgingshoof in Noordwes, en adv. Sello Maema, adjunkdirekteur van vervolging in dié provinsie.

Hul name word genoem in die sogenaamde De Kock-verslag. Vier senior aanklaers in die NVG het dié verslag van 96 bladsye opgestel nadat hulle in opdrag van adv. Shamila Batohi, NVG-hoof, ondersoek ingestel het na die ongegronde vervolgings in die saak van die sogenaamde Cato Manor-moordbende.

Johan Booysen, ’n voormalige bevelvoerder van die Valke in KwaZulu-Natal, en 26 ander mense is in 2012 van rampokkery aangekla.

Booysen is onder meer daarvan beskuldig dat hy ’n moordbende in dié provinsie bedryf het.

Batohi het die vervolging sewe jaar later finaal gestaak en die ondersoek gelas waarby Noko en Maema betrek is.

Maema was destyds die hoofaanklaer in die Booysen-saak en Jiba het Noko as vervolgingshoof in KwaZulu-Natal aangestel. Bronne in die NVG beskryf albei as “Jiba-dissipels”.

Die NVG het albei onlangs na die NVG in Noordwes verplaas.

Die kern van die klagte wat teen Noko en Maema ondersoek word, is die getuienis van die Griekse sakeman Aris Danikas.

Booysen het Danikas, ’n polisiereservis wat vir die Cato Manor-eenheid gewerk het, in 2008 geskors omdat hy die polisie in oneer gebring het.

Ná Booysen se inhegtenisneming in 2012 het Danikas in ’n verklaring beweer hy was teenwoordig terwyl lede van die eenheid verdagtes gemartel en vermoor en bewyse geplant het.

Hy het die verklaring egter nooit onderteken nie.

Booysen het in 2014 ’n hofbevel verkry om die vervolging teen hom tersyde te stel, maar toe adv. Shaun Abrahams in Mei 2015 as nasionale hoof van die NVG aangestel is, het hy Maema Griekeland toe gestuur om Danikas te gaan ondervra.

Maema het teruggekeer met twee verklarings, een in Grieks en een in Engels. Op grond van dié verklarings het Abrahams Booysen weer aangekla. Maema het later aan die De Kock-paneel erken Danikas wou nie die verklaring in Engels onderteken nie omdat daar foute was.

“Sy handtekening op die Griekse weergawe is toe op die Engelse weergawe gesuperponeer (superimposed),” lui ’n e-pos van Maema, in Rapport se besit, aan die De Kock-paneel.

Noko en Maema het in ’n voorlegging aan Abrahams glo valslik beweer verskeie getuies, onder wie Danikas, betrek Booysen direk by Cato Manor-moorde.

Boonop was Noko verantwoordelik vir die terugtrek van klagte in 2015 teen Thoshan Panday, ’n Durbanse sakeman, die polisiekolonel Navin Madhoe, en lt.genl. Mmamonnye Ngobeni, voormalige polisiekommissaris in KwaZulu-Natal.

Die Valke het dié drie eindelik voorverlede week in hegtenis geneem op meer as 200 klagte van onder meer bedrog, korrupsie, vervalsing en regte-uitgifte, regsverydeling en omkopery te make met tenders tydens die Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010.

Die OD wou by navraag nie die ondersoek teen Noko en Maema ontken of bevestig nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.