Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ombudsman kyk na klagte oor gedrag van polisielede

Die kantoor van die polisieombudsman in die Wes-Kaap ondersoek bewerings van polisiewreedheid en vergrype deur lede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid.

Volgens Johan Brand het mense uit verskillende gemeenskappe by sy kantoor gekla dat van die lede hul magte misbruik wanneer hulle hul pligte uitvoer.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, het ook ’n klag ingedien.

Johan Brand, polisieombudsman in die Wes-Kaap, toe hy nog in die polisie en stasiebevelvoerder van die Mitchells Plain-polisieskantoor was. Foto: Argief

Hy sê Fritz se kantoor het soortgelyke klagtes teen lede van die eenheid ontvang.

Brand sê dit is teen dié agtergrond dat hulle mense wil vra om kommentaar te lewer en hul ervarings met sy kantoor te deel.

Die klagtes hou verband met die deursoek van verkeerde adresse, teistering van onskuldige mense, onaanvaarbare gedrag teenoor veral jeugdiges in openbare plekke en magsmisbruik deur die lede van die teenbende-eenheid.

“My kantoor wil erkenning gee aan die werk van die eenheid en veral die betekenisvolle impak wat dit het op die gebied van die bendes. Ons moet egter toesien dat mense wat nie binne die raamwerk van die wet optree nie, aangespreek word,” sê Brand.

Netwerk24 het in September berig dat Tyrese April (18), ’n selferkende bendelid van Manenberg, beweer het hy is op 17 en 18 Julie twee keer deur uniformlede van die Wes-Kaapse teenbende-eenheid opgelaai vir ondervraging en daarna ure lank aangerand en gemartel is net buite Manenberg en ook by die huis waar hy later afgelaai is.

In Elsiesrivier was daar in die week van 7 September glo vyf klagte van polisiegeweld. Daar is ook ’n klag van diefstal teen lede van die bende-eenheid by die plaaslike polisiekantoor ingedien. In al die gevalle is die bewerings oor dieselfde groep lede wat April glo aangerand en gemartel het.

Die klagte in Elsiesrivier handel oor die dood van Leeroy Oliphant (30) op 8 September. Hy is in polisieaanhouding dood sowat twee uur nadat hy deur uniformlede vir ondervraging ingeneem is.

My kantoor wil erkenning gee aan die werk van die eenheid en veral die betekenisvolle impak wat dit het op die gebied van die bendes. Ons moet egter toesien dat mense wat nie binne die raamwerk van die wet optree nie, aangespreek word.

Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, het toe gesê hulle ondersoek verskeie klagte, maar kan in die belang van geregtigheid nie die besonderhede daarvan gee nie.

Inwoners kan hul kommentaar oor die ondersoek stuur na: Private Sak X9042, Kaapstad, 8000. Dit kan ook per e-pos gestuur word na: ombudsman@wcpo.gov.za. Die faksnommer is 021 483 0660 en mense kan ook hul kommentaar per hand by die kantoor van die ombudsman op die sesde verdieping van die NBS Waldorf-gebou by 80 Burgstraat, Kaapstad, aflewer. Dit kan Maandae tot Vrydae, behalwe op openbare vakansiedae, van 07:00 tot 16:00 gedoen word. Alle kommentaar moet vir aandag van J.J. Brand gemerk word.

Kommentaar moet Brand se kantoor voor of teen 30 Oktober bereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.