Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Omroeper hardloop vir rowers weg in Pta-straat
Janine van Niekerk Foto: Verskaf

“Here, help! Here, help! Here, help!”

Janine van Niekerk (48), ’n omroeper by Radiokansel, het hierdie woorde herhaaldelik gebid terwyl sy weggehardloop het van twee onbekende mans wat haar te voet gejaag het.

Sy het nog ewe rustig in die straat gedraf toe hierdie mans slegs enkele sekondes tevore skielik uit ’n voertuig spring en na haar gryp.

Van Niekerk kon daarin slaag om hulle te ontwyk, maar die skrik was steeds groot.

Haar seun het Maandagmiddag ’n bestuursles gehad in die woonbuurt agter die Lynnridge-winkelsentrum in Lynnwood Ridge, Pretoria, en sy het sommer besluit om vir daardie twee uur ’n drafsessie in te werk.

“Ek ken glad nie daai omgewing nie, want ek het nog nooit daar gehardloop nie. Ek vat toe net die pad en hol parallel met Lynwoodweg,” sê Van Niekerk.

“Dit was ’n mooi dag en daar was vir my geen rede om te dink dat iets sal gebeur nie.”

Sy woon saam met haar gesin op ’n kleinhoewe in die Rietvlei-omgewing in Pretoria, en was dus net in die Lynnwood Ridge-omgewing vir haar seun se bestuursles.

Van Niekerk het ’n entjie gedraf en die volgende oomblik hou ’n voertuig met drie mans skuins voor haar stil waar sy op die linkerkantste sypaadjie in Swaardlelielaan in Die Wilgers gedraf het.

“Ek ken glad nie daai omgewing nie, want ek het nog nooit daar gehardloop nie. Ek vat toe net die pad en hol parallel met Lynwoodweg.

Sy het haar selfoon, oorfone en ’n hardloophorlosie by haar gehad.

“Die twee aan my kant het uitgespring en my terselfdertyd probeer gryp. Ek het op ’n manier verby hulle gekom aan die agterkant van die voertuig,” sê Van Niekerk.

Dis toe dat die twee mans haar agternasit, maar sy het net aangehou hardloop en onverpoos gebid.

Links van haar was ’n aftreeoord met ’n veiligheidswag by die ingang.

“Ek het gegil dat hy die hek moet oopmaak en hy het gereageer en my gehelp. Toe stop die manne en hulle draai om, hardloop terug na die voertuig en ry weg.”

’n Inwoner van die aftreeoord het haar teruggeneem na die Lynnwoodrif-gemeente waar haar seun besig was met sy bestuursles.

“Op pad terug soontoe was daar twee meisies wat alleen gehardloop het met geen benul wat nou net om die draai gebeur het nie,” sê Van Niekerk.

“Ons vroumense hou daarvan om alleen te hardloop, maar dis nie die moeite werd nie.”

Ek het pepersproei om my arm gehad, maar dit het nie eens by my opgekom om dit te gebruik nie. Ek het net gehardloop – daar was nie tyd om te dink nie.

Sy kan egter nie die voertuig identifiseer nie, maar onthou net dit was ’n ou ligblou kar.

“Ek hardloop al vir jare en dit het nog nooit met my gebeur nie. Ek hardloop op kleinhoewes en grondpaaie, maar dié keer dat ek in die stad hardloop . . .

“Ek het pepersproei om my arm gehad, maar dit het nie eens by my opgekom om dit te gebruik nie. Ek het net gehardloop – daar was nie tyd om te dink nie.

“Wat sou gebeur as hulle my in daai kar gekry het?”

Sy gaan egter nie toelaat dat die voorval haar onderkry nie.

“As ek nou terugkyk, is daar baie om voor dankbaar te wees. Ek gaan maar net praktiese planne maak om die hardloop veiliger te maak, maar ek gaan nie nou begin haat as gevolg hiervan nie.”

Van Niekerk het nie ’n klag by die polisie aanhangig gemaak nie.

Meer oor:  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.