Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Omstrede ‘profeet’ voor huis doodgeskiet

Die prediker wat daarvan beskuldig is dat hy die middelman in die huurmoord op ’n opkomende boer van Bloemfontein was, is Maandag in die vroeë oggendure doodgeskiet in wat vermoedelik ’n sluipmoordaanval was.

Elvis “Sunnyboy” Galeboe (39), ’n “profeet” van die Livingstone Revival Ministries, is Maandag omstreeks 02:38 voor sy huurhuis in Freedom Square, Bloemfontein, doodgeskiet.

Elvis “Sunnyboy” Galeboe (39), ’n “profeet” van die Livingstone Revival Ministries, is Maandag voor sy huis in Freedom Square, Bloemfontein, doodgeskiet.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, was Maandag versigtig om te bevestig dat dit wel Galeboe is wat vermoor is en sê hulle wag nog vir familielede om ’n formele uitkenning te doen.

Makhele sê egter die oorledene, wat hy as Sunnyboy Kgalebooi Elvis (39) geïdentifiseer het, is in die bors, arm en heup getref.

“Hy het uit die motor geklim en na die hek geloop toe mense uit ’n motor wat daar naby stilgehou het, hom doodskiet.

“Daar was vier mense in die motor. Niemand anders is beseer nie en niks is geroof nie,” sê Makhele.

Hy sê die oorledene is voor sy huurhuis afgelaai.

’n Klag van moord word ondersoek en Makhele sê dit is te vroeg om te bevestig of die moord te doen het met enige van die sake waarin hy ’n verdagte is.

Die motief vir die moord is ook nog onbekend.

Galeboe word nie net aangekla van die sluipmoord op Ntau Lucas Mokoena (51), ’n opkomende boer en taxibaas, nie, maar sy naam word ook genoem in die sluipmoord op ’n soldaat in Oudtshoorn.

Mokoena is in Julie vanjaar in sy huis in Fichardtpark, Bloemfontein, vermoor. Sy vrou, Kelebogile Louisa (51), is kort ná die voorval aangekeer.

Netwerk24 het vroeër berig Galeboe word glo met dié moord verbind deur ’n bekentenis wat Kelebogile afgelê het oor wie watter rol gespeel het in haar man se skietdood die aand van 8 Julie in hul huis in Schnehage-singel.

Albei is in Oktober op borgtog van altesame R30 000 vrygelaat.

Elvis Galeboe vroeër vanjaar in die landdroshof in Bloemfontein waar hy in verband met die moord op Ntau Lucas Mokoena (51) verskyn het. Foto: Alzane Narrain

Die Oudtshoorn Courant het in September vanjaar berig Galeboe is nie ’n verdagte in die huurmoord op Preston Titus nie, wat op 2 Desember 2017 in sy weermaghuis in Oudtshoorn vermoor is, maar het kontak gehad met al die verdagtes in die saak.

Dié koerant het ook berig daar is verskeie ooreenkomste tussen die moord in Bloemfontein en die Titus-moord.

In albei gevalle is die slagoffers in hul huise vermoor; in albei gevalle was daar sprake van huweliksprobleme tussen die onderskeie egpare; mense wat betrokke was in die onderskeie moorde was ook betrokke by Galeboe se kerk en in albei die gevalle is drie huurmoordenaars gebruik om die moorde te pleeg.

Meer oor:  Ntau Lucas Mokoena  |  Bloemfontein  |  Moord  |  Sluipmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.