Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ondersoek na bewaarders wat glo tronk se vee steel

Die Oos-Kaapse departement van korrektiewe dienste (DKD) ondersoek die beweerde diefstal van vee deur tronkbewaarders by twee van hul fasiliteite.

Na bewering is die vee, wat as voedselbronne vir die gevangenes gebruik word, tussen 2017 en 2019 glo by die St. Albans-gevangenis in Port Elizabeth en die Middledrift- korrektiewe sentrum in Middledrift, sowat 40 km buite King William’s Town, gesteel.

Die ingang van die St. Albans-gevangenis wat aan die buitewyke van Port Elizabeth geleë is. Foto: Argief

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die DKD, sê die vee word afsonderlik, maar op dieselfde eiendom aangehou as waar die tronk geleë is, en vorm deel van die departement se selfonderhoudende projekte om die gevangenes te voed.

Die diefstal is glo opgemerk toe voorraadopnames gedoen is en tronkbewaarders word verdink.

Nobuntu Gantana, provinsiale woordvoerder van die DKD, het egter by navrae in ’n verklaring gesê geen bewaarder is nog uitgewys of geïmpliseer by die diefstalsake nie.

“Sou enige van ons beamptes betrokke wees, sal hulle soos enige ander lid van die publiek aan die regstelsel oorgelaat word en die departement sal ook strafmaatreëls instel.”

Na verneem word is verskeie sake in verband met die veediefstal by die Middledrift- en Kabegapark-polisiekantoor aangemeld.

Nxumalo wou nie die geskatte waarde van die vee bekend maak nie. Hy wou ook nie kommentaar lewer oor aantygings dat landboutoerusting glo ook by die twee korrektiewe sentrums verdwyn het nie en gesê alles sal uiteindelik deel vorm van die ondersoek.

Volgens hom is slegs St. Albans en Middledrift tans onder die soeklig, maar die departement sal dadelik ander sentrums ondersoek indien klagte ontvang word. Benewens die polisieondersoek sal die departement ’n interne ondersoek hou, lui Gantana se verklaring.

Volgens Gantana word die aantygings nie ligtelik opgeneem nie. “Die departement is bekommerd oor die veiligheidsbreuk. Dit is ’n feit dat van hierdie breuke vermy kan word, indien dit reg bestuur word.

“Daarom het ons dit verpligtend gemaak dat elke veiligheidsbreuk ten volle ondersoek moet word en maatreëls bykans onmiddellik getref word om normaliteit te herstel, terwyl daar sterk opgetree word teen diegene wat oortree het – hetsy dit gevangenes, beamptes of enige ander persoon is.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.