Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onderwêreld: Cele en kie. gaan afpersers vasvat

Grootkoppe in die nasionale en provinsiale polisie het Woensdag ’n bestuurskomitee op die been gebring om afpersing-sindikate wat ondernemings in die Kaapse middestad teister, heeltemal uit te roei.

Bheki Cele, die polisieminister, sy adjunk, Cassel Mathale, en die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het hoëvlak-samesprekings met lede van die Wes-Kaapse regering, die plaaslike polisie en die Kaapse metro gevoer om rampokkery in die Moederstad te bespreek.

Cele en sy span het ook ondernemings in Langstraat besoek om hulle aan te moedig om sake by die polisie te open en om eerstehandse inligting oor hul probleme in te win.

Bheki Cele, die nasionale polisieminister, saam met Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid. Foto: Saps Twitter

Kafees, kroeë en restaurante in die stad kla dat hulle sedert die vlak 2-inperkingsregulasies ingetree het, gedreig word om “beskermingsgeld” van minstens R20 000 per maand aan mense in die Kaapse onderwêreld te betaal.

“Ons het met alle belanghebbendes vergader om aandag te skenk aan sakeondernemings, restaurante en koffiewinkels wat vir beskermingsgeld geboelie word. Ons beskou dit as ’n baie ernstige probleem,” het Cele gesê.

Volgens hom gaan ’n geïntegreerde reaksieplan ontwikkel word om ’n billike inspuiting van hulpbronne in dié projek te pomp om sodoende ’n doeltreffende, pro-aktiewe en reaktiewe benadering te verseker.

Die polisieminister het ondernemings in die stad verseker dat hulle beskerm sal word as hulle sake by die polisie open.

Hy sê die grootste uitdaging vir die polisie is die onwilligheid van sakeondernemings om misdaadsake van afpersing by die polisie aan te meld.

“Ons wil hê ondernemings moet sake aanhangig maak wat ons kan ondersoek. Die provinsiale bestuur en speurders van die SAPD sal vinnig optree wat betref die sake wat by ons geregistreer is.”

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris. Foto: Saps Twitter

Cele sê die probleem met die beskermingsgeld wat geëis word, is dat dit doodeenvoudig afpersing is en afpersing is niks anders nie as georganiseerde misdaad.

“Terwyl ons probeer om die ekonomie ná die Covid-19-pandemie te red eis boewe en misdadigers beskermingsgeld van wettige ondernemings. Ons kan dit nie toelaat nie. Ons het ’n ooreenkoms bereik dat ons hierdie situasie op ’n geïntegreerde manier tussen die nasionale en provinsiale polisiekantore, die provinsiale regering, die Kaapse metro en ondernemings in en om die stad sal benader.”

Cele sê hulpbronne gaan geïntegreer word om te verseker dat ondernemings in ’n veilige omgewing kan werk.

“Vir dié doel is ’n bestuurskomitee aangestel en ’n geïntegreerde reaksieplan sal ontwikkel word.”

JP Smith, die burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit in die Kaapse metro, het die minister vir sy flink optrede geloof.

“Ons het gesê ’n krisis staar ons in die gesig en dat ondernemings die druk voel. Ek het ’n massiewe skok gehad toe ek in Langstraat loop en sien hoe baie leë ondernemings daar is.”

Die polisieminister besoek Langstraat in Kaapstad. Foto: Verskaf

Smith sê Cele het vinnig ingegryp en was bereid om na bekommernisse te luister.

“Die afpersing van ondernemings het uitgebrei van net die nagklublewe na ander ondernemings ook. Dis wat mense bang maak.”

Smith sê mense wil nou inhegtenisnemings en vervolgings sien.

Randolf Jorberg, die eienaar van Beerhouse wat tans oorsee is, was die eerste sakeman wat teen die beskermingsindikaat opgestaan het en ’n WhatsApp-groep met die naam Cape Town Racketeers begin het om hul dade bloot te lê.

Hy het die stap verwelkom.

Meer oor:  Bheki Cele  |  Rampokkery  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.