’n Onderwyser (30) van Mpumalanga is agter tralies nadat hy na bewering pornografie vir ’n 14-jarige meisie gewys het.
Die onderwyser het Woensdag in die landdroshof in KaBokweni verskyn op aanklagte van seksuele gereedmaking en die verspreiding van pornografie aan ’n minderjarige.
Luidens ’n verklaring van die polisie in Mpumalanga het die meisie se ma op 5 November ’n vreemde selfoon in haar kamer gevind.
“Die meisie het aan haar ma erken ’n onderwyser by haar skool het die foon gekoop,” sê brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, in die verklaring.
Die ma het glo besluit om na die inhoud van die foon te kyk en gesien iemand stuur vir haar kind pornografiese materiaal.
Volgens Hlathi het die ma onmiddellik ’n saak aanhangig gemaak en die onderwyser is Dinsdag in hegtenis geneem.
Die saak is uitgestel tot Vrydag wanneer die man na verwagting formeel om borgtog aansoek gaan doen.