Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onderwyser in plaasaanval in Noordwes gewond

Die vinnige reaksie van ’n laerskoolonderwyser het waarskynlik sy ouers se lewe gered toe gewapende mans hulle Maandagaand op hul kleinhoewe in die Bokfontein-omgewing by Mooinooi in Noordwes aangeval het.

“As dit nie vir my seun Paul was wat sy .22 uit die kluis gaan haal het en op die mans begin skiet het nie, weet ek nie wat met ons sou gebeur het nie,” het ’n steeds getraumatiseerde Maryna Scholtz (61) Dinsdag aan Netwerk24 gesê.

Paul jr. (33), ’n onderwyser by die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Hartbeespoort, wat in die plaasaanval gewond is. Foto: Verskaf

Scholtz se seun Paul jr., (33) is ’n onderwyser by die Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Hartbeespoort.

Volgens Scholtz het haar man, Paul sr. (58), Maandagaand omstreeks 21:30 by die huis aangekom.

“Hy het nogal laat van die werk af gekom. Ons verwerk groente wat ons dan verkoop. Vier mans het hom onder by die hek ingewag en hom oorrompel toe hy die hek oopsluit,” sê Scholtz.

Die mans het Paul sr. se hande agter sy rug vasgebind en met hom in die bakkie na die huis gery.

Die aanvallers het die bakkie ongeveer 100 m van die huis af geparkeer en die huis verder te voet genader.

“Ek was half aan die slaap op die bank maar het skielik ’n geraas buite gehoor. Toe sien ek my man en die aanvallers hier voor my by die skuifdeur!

“Hulle het reeds by die hek my man se selfoon en R4 000 in kontant wat hy by hom gehad het, gevat.

Die skuifdeur is vol gate geskiet in Maandagaand se plaasaanval in die Bokfontein-omgewing in Noordwes.Foto: Verskaf

“Gelukkig het my seun in daardie stadium wakker geword, sy vuurwapen uit die kluis gaan haal en op die mans begin skiet. Daar was ’n oor-en-weer-skietery voordat die mans op die vlug geslaan het.

“Ons het eers later, toe ons bloedspatsels op die vloer sien, agtergekom dat een van die aanvallers se koeëls my seun in sy linkerarm getref het. Dit is gelukkig net ’n vleiswond,” sê Scholtz.

“Ons woon al 14 jaar in dié huis en daar het nog nooit enigiets met ons gebeur nie. Ek kan wel noem dat iemand ons grensdrade verlede week geknip en ons honde probeer vergiftig het. Ek dink die aanvallers het ons bewegings geruime tyd dopgehou voordat hulle toegeslaan het,” sê Scholtz.

Klagte van gewapende roof en poging tot moord word deur die polisie ondersoek. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Meer oor:  Mooinooi  |  Noordwes  |  Misdaad  |  Gewond  |  Hoewe-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.