Mediese praktyke wat dokters aanstel, moet seker maak hulle is geregistreer by die raad op gesondheidsorgberoepe van Suid-Afrika (HPCSA).
Die raad het Vrydag gesê die voortdurende probleem waar geregistreerde mediese praktyke ongeregistreerde dokters aanstel om daar te werk, bekommer hom.
Dit kom nadat die raad se ondersoekeenheid in die Wes-Kaap saam met die polisie en ander owerhede ondersoek ingestel het na ’n mediese sentrum in Harare in Khayelitsha.
Dit het volgens die HPCSA aan die lig gekom dat Jim Epopolo Mumbayi (36) van die Demokratiese Republiek van die Kongo hier as ’n dokter gewerk en pasiënte behandel het terwyl hy nie by die HPCSA geregistreer was nie.
Mumbayi het aan die HPCSA gesê dr. Kambu Bambi, eienaar van die mediese sentrum, het hom in November 2020 aangestel.
Bambi is Dinsdag na die praktyk ontbied en ondervra. Hy het bevestig Mumbayi werk vir hom, maar gesê hy was nie bewus daarvan dat hy nie by die raad geregistreer is nie.
Mumbayi is in hegtenis geneem. Hy het Donderdag in die hof verskyn en word aangekla van bedrog ingevolge art. 17(1) van die Wet op Gesondheidsberoepe, sê kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder.
“Die onus is op die praktisyn om seker te maak die plaasvervanger is by die HPCSA geregistreer. Dit is ’n strafregtelike oortreding indien ’n ongeregistreerde praktisyn aangestel word. Praktisyns kan van onetiese gedrag aangekla word.
Bambi, wat wel geregistreer is, is by die mediese en tandheelkunderaad van onetiese gedrag aangekla.
Die HPCSA waarsku dokters hulle moet seker maak as hulle plaasvervangers aanstel dat dié mense by die raad geregistreer is.
“Die onus is op die praktisyn om seker te maak die plaasvervanger is by die HPCSA geregistreer. Dit is ’n strafregtelike oortreding indien ’n ongeregistreerde praktisyn aangestel word. Praktisyns kan van onetiese gedrag aangekla word.”