Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onluste: 12 vermeende aanhitsers nou vas

Dinsdagoggend is die twaalfde verdagte in hegtenis geneem in verband met die beweerde aanhitsing van verlede maand se onluste in KwaZulu-Natal en Gauteng, sê Bheki Cele, minister van polisie.

“Die persoon ontwyk die polisie nou al geruime tyd. Die persoon is waargeneem op baie van die platforms waar aanhitsing plaasgevind het. Die persoon se inhegtenisneming bring die getal vermeende aanhitsers wat in hegtenis geneem is, op 12 te staan,” het Cele Dinsdag op ’n mediakonferensie in Inanda in KwaZulu-Natal gesê.

Sihle Zikalala, premier van KwaZulu-Natal, het hom na die mediakonferensie vergesel.

Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Gallo Images

Intussen het Jacky Shandu (37), een van die vermeende aanhitsers, Dinsdagoggend in die landdroshof in Durban op twee aanklagte van aanhitsing tot openbare geweld verskyn.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wou nie Dinsdagmiddag by navraag bevestig of Shandu die twaalfde persoon is na wie Cele verwys het nie.

The Witness berig Shandu is in hegtenis geneem weens sy opmerking “een Indiër, een koeël” in ’n video wat verlede week op sosiale media geplaas is.

Die saak is tot 6 Augustus uitgestel.

Grootskaalse onluste en geweld het kort ná oudpres. Jacob Zuma se inhegtenisneming op 7 Julie in KwaZulu-Natal en Gauteng uitgebreek. Verskeie winkels is geplunder, infrastruktuur is aan die brand gesteek en paaie is versper. Minstens 340 mense is tydens die onluste dood, van wie minstens 251 in KwaZulu-Natal.

Cele het Dinsdag gesê daar was veral geweld in Phoenix, ’n woongebied noordwes van Durban.

“Wat ons in Phoenix gesien het, is nie aanvaarbaar nie. Minstens 36 mense is tydens die onluste hier dood. Dit is weens blote misdadigheid met elemente van rassespanning.”

Volgens Cele is minstens 30 van die oorledenes doodgeskiet, terwyl twee slagoffers aan die brand gesteek is. Een persoon is dood nadat hy omgery is, een is doodgesteek en twee is dood weens hul beserings.

Wat ons in Phoenix gesien het, is nie aanvaarbaar nie. Minstens 36 mense is tydens die onluste hier dood. Dit is weens blote misdadigheid met elemente van rassespanning.

Hy sê die gemeenskap het eie reg gebruik om die woongebied teen plunderaars te beskerm. “Gewapende mense het padblokkades beman. Mense is op grond van hul ras voorgekeer en toegang geweier, aangerand en selfs vermoor.”

Van die polisie se “topondersoekbeamptes” gaan dié moorde ondersoek. “Daar is reeds 22 mense in hegtenis geneem op aanklagte van moord, poging tot moord, saakbeskadiging, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en die besit van onwettige vuurwapens.”

Cele sê private veiligheidsmaatskappye word ook ondersoek weens hul rol in die onluste in Phoenix.

“Ons het 152 vuurwapens by private veiligheidsmaatskappye gekonfiskeer.”

Dit is volgens hom kommerwekkend dat die polisie tydens die onluste in Phoenix op “112 onwettige vuurwapens” beslag gelê het.

“Ek wil families wat deur hierdie tragedie geraak is, gerusstel deur te sê dat die polisie alles in sy vermoë doen om die skuldiges vas te trek. Geregtigheid sal seëvier.”

Hoewel die situasie in KwaZulu-Natal nou weer kalm is, sal die polisie steeds waaksaam bly.

Meer oor:  Gauteng  |  Kwazulu-Natal  |  Aanhitsers  |  Onluste  |  Aangekeer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.