Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onmin oor kerk-opvolger lei glo tot 5 se dood
Van die mense wat die polisie Saterdag by die kerk in hegtenis geneem het.Foto: SAPD

Dis laakbaar dat ’n “geestelike plek van hoop en heling” so aangeval word.

Dit was die reaksie van die International Pentecost Holiness Church op die gyselaarsdrama Saterdag by hul kerk in Westonarea aan die Wes-Rand, waarin vyf mense dood is.

Luidens ’n mediaverklaring wat die kerk uitgereik het, is daar reeds sedert 2016 onmin binne kerkgeledere.

Die kerk beweer ’n groep wegbrekers was aan stuur van die aanval waarby glo tot 50 mense betrokke is.

Die vorige kerkleier, Glayton Modise, is in 2016 dood, waarna sy seun, Frederick Modise, hom opgevolg het. Die onmin hou vermoedelik hiermee verband.

Modise jr. sê in die mediaverklaring hy is diep bedroef dat hul “heilige grond” só geskaad is. “My voorgangers se nalatenskap was liefde en vrede; hierdie voorval is ’n teken van God dat ons ons rug moet draai op donker magte wat geweld en bose metodes gebruik om die nalatenskap vir persoonlike gewin te skaad.”

Volgens die kerk het ooggetuies vertel die aanvallers het omstreeks 1:30 Saterdagoggend by die kerk in Zuurbekom opgedaag. Hulle was glo as polisiemanne vermom en het in ’n BMW en twee Toyota Quantum-bussies opgedaag. Hoewel hulle glo toegang geweier is, het hulle by ’n ander ingang by die gebou ingekom.

Brig. Vish Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, sê verskeie afdelings van die polisie, asook lede van die Suid-Afrikaanse Weermag, het omstreeks 3:00 Saterdagoggend gereageer op berigte van ’n skietery en beweerde gyselaarsituasie by die kerk.

Van die wapens en ander goedere waarop die polisie Saterdag by die kerk beslag gelê het. In die agtergrond is van die mense wat op die toneel in hegtenis geneem is. Foto: SAPD

Volgens Naidoo het ’n roep gewapende mense glo kort tevore by die kerk aangekom en mense in die gebou aangeval. “Hulle het na bewering aangedui hulle is daar om die perseel oor te neem.”

Die polisie het afgekom op die lyke van vier mense wat geskiet en in ’n kar verbrand is, asook op die lyk van ’n veiligheidswag wat in sy kar doodgeskiet is nadat hy oënskynlik op die klag (oor die skietery) gereageer het.

Volgens Naidoo het die polisie meer as 40 verdagtes in hegtenis geneem. Ses van die verdagtes is met beserings na ’n hospitaal geneem.

Van die mense wat in hegtenis geneem is, is lede van die polisie en weermag, asook van die Johannesburgse metropolisie en mense wat vir die departement van korrektiewe dienste werk.

Naidoo het benadruk dat al die ampsdraers nie aan diens was nie, maar op die toneel was weens hul betrokkenheid by die kerk.

Die polisie het beslag gelê op meer as 34 vuurwapens. Die polisie het vroue en kinders wat glo op die perseel woon en gyselaar gehou is, gered.

Naidoo sê die moontlikheid word ondersoek dat die motief vir die aanval ’n vete tussen strydende groepe in die kerk is.

Genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, sê ’n selfs erger bloedbad is voorkom danksy al die betrokke wetstoepassingseenhede se vinnige reaksie. “Dit is jammer dat so iets gebeur in ’n tyd wanneer Suid-Afrika gebuk gaan onder “die plaag van ’n dodelike virus en geweldsmisdade”.

Die African Transformation Movement, asook die groep Christians of South Africa, het die aanval veroordeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.