Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onnie ‘het tot einde baklei’

Grusame besonderhede het aan die lig gekom van die wreedaardige aanval waarin Allison (Sussie) Plaatjies (26), ’n onderwyseres van Clanwilliam, vermoor is.

Allison Plaatjies en Philip April. Foto: Facebook

Plaatjies se bebloede lyk is verlede Sondagaand op die vloer in haar woonstel in Katjiepieringstraat ontdek. Vriende en familie het sedert die vorige aand sonder sukses na haar gesoek.

Philip April (24), ’n onderwysstudent en Plaatjies se kêrel, het intussen ’n bekentenis aan die polisie afgelê.

Bronne na aan die ondersoek sê April het Plaatjies glo eers verwurg, waarna hy haar na bewering met drie verskillende messe probeer onthoof het. Een van die messe het glo in haar nek afgebreek. “Haar nek het asof aan ’n pennetjie gehang,” sê ’n bron.

Plaatjies se selfoon is glo ook in die water gegooi, blykbaar sodat mense dit nie kan hoor lui nie.

Beeldmateriaal wat van ’n winkel naby Plaatjies se woonstel bekom is, wys hoe sy en April Sondag in haar nuwe motor by die straat indraai. Later vertrek die motor weer, net met April agter die stuurwiel.

Verkeersbeamptes het April later die aand buite Citrusdal aangekeer weens vermeende dronkbestuur en omdat hy sonder ’n rybewys bestuur het. Hy het glo krapmerke aan sy gesig gehad.

‘Haar nek het asof aan ’n pennetjie gehang.’

Plaatjies, oorspronklik van Swellendam, het vanjaar haar onderwysloopbaan as Afrikaans-onderwyseres aan die Laerskool Sederberg begin. Rapport verneem dat sy sowat twee weke gelede haar verhouding met April beëindig het. Sy sou die dag van haar verdwyning na ’n partytjie gaan en wou April glo nie saamneem nie.

Rapport verneem betroubaar dat April glo sy strafsaak so gou moontlik wil afhandel, omdat hy blykbaar beplan om sy onderwysstudies in die tronk te hervat. Hy is glo reeds deur ’n sielkundige geëvalueer.

Familie en vriende van Plaatjies het die afgelope week op haar tuisdorp gesukkel om oor haar wrede dood te praat.

Haar grootmaakma en tante, Lizel Plaatjies, sê Plaatjies se ma, Elize, is stukkend en het amper ophou praat. “Elize huil nie. Ons is baie bekommerd oor haar.”

Lizel en Plaatjies se broer André (31) het die lyk gaan uitken.

“Die forensiese beampte wou eers nie hê dat ons die wonde sien nie en het eers vir ons foto’s gewys. Toe wys hy ons, maar net tot by haar ken . . .

“Ons is vertel dat Allison se stembande afgesny is, sodat sy dalk nie moes skree nie. Dat dit ook lyk asof sy wou wegkom van haar aanvaller en toe met ’n swaar voorwerp geslaan is. Sy is ook in haar gesig gebyt en haar ken was gesny.

“Allison was klein en fyn, maar baie rats en ons glo sy het tot die einde geveg, probeer wegkom. Ek het so baie by Sussie geleer: oor Afrikaans en om reg te spel en woorde mooi uit te spreek.”

Lizel beskryf April as “doodstil as hy op Swellendam kom kuier het”. Sy sê sy kan die gedagte dat April glo vir Plaatjies se dood verantwoordelik is, nie oor haar hart kry nie.

Vriende sê Plaatjies het moeilik grootgeword en dat gemeenskapsleiers destyds ingespring het om te help dat sy ’n onderwysbeurs kry. Hulle sê Plaatjies het die grond aanbid waarop April geloop het – sy het selfs op sy tuisdorp onderwys gaan gee. In ’n inskrywing op sosiale media skryf sy byvoorbeeld op 28 Julie 2017 aan April: “Sterkte met vandag se crits, my eie worsman! Do what you do best – Be in control (glimlag-ikoon)”.

’n Gemeenskapsleier, Billy Claasen, sê “ ’n jong en suksesvolle onderwyseres, wat deur moeilike omstandighede uitgestyg het, is wreed van haar enkelouer weggeneem.

“Saam met die organisasie Women for Change gaan ons op 13 November, wanneer die beskuldigde om borgtog aansoek doen, hard beswaar aanteken,” sê Claasen.

Volgens ’n woordvoerder vir die nasionale vervolgingsgesag in die Wes-Kaap, Eric Ntabazalila, word April aangekla van moord, motordiefstal en regsverydeling.

  • Plaatjies se vorige kêrel, Elton Windvogel, is vier jaar gelede op die dorp vermoor. Hy is volgens inwoners ook wreed met ’n mes aangeval. ’n Man dien tronkstraf uit hiervoor.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.