Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onnie in haar huis in Kuruman aangeval

Waarskuwing: Hierdie berig bevat foto's wat sommige lesers mag ontstel. 

’n Onderwyseres van Kuruman is erg getraumatiseer nadat ’n onbekende man haar helder oordag in haar huis op die dorp aangeval het.

Elmarie Cloete (58), wat op dié Noord-Kaapse dorp skoolhou, het snywonde aan haar arms en nek opgedoen nadat sy ’n man by die agterdeur van haar huis betrap het.

Haar man, Leonard (59), wat tydens die voorval geslaap het nadat hy die vorige aand nagskof gewerk het, sê die man het sy vrou Sondag omstreeks 15:00 by die agterdeur ingewag, ’n mes gegryp en haar na ’n buitekamer gesleep waar ’n erge stoeiery tussen hulle ontstaan het.

Hier het die aanvaller onder meer haar nek en arms met die mes, wat hy in die egpaar se huis gekry het, gesteek.

“Behalwe vir die steekwonde aan haar arms en nek en die lyfseer is sy oukei, maar erg getraumatiseer. Sy het genadiglik nie ernstige beserings in die voorval opgedoen nie. Ons is dankbaar daarvoor.”

Leonard sê Elmarie het daarin geslaag om van die aanvaller te vlug en hy is deur die bebloede gesig van sy vrou in hul slaapkamer begroet.

Volgens hom het die aanvaller nie ’n wapen gehad nie, behalwe die mes wat hy in die huis gegryp het, en niks is in die voorval gebuit nie.

Dit is nie duidelik in watter rigting die aanvaller gevlug het nie, want hy was reeds skoonveld toe Leonard ondersoek gaan instel het.

Kapt. Olebogeng Tawana, ’n polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek ’n klag van huisroof.

Die aanvaller is steeds op vrye voet.

Enigiemand met inligting kan kapt. Victor Mabena by 063 691 1089 bel.

Die buitekamer waar Elmarie Cloete en haar aanvaller gestoei en sy met ’n mes gesteek is.Foto: WhatsApp
Die snymerke aan Elmarie Cloete se nek. Foto: WhatsApp
Meer oor:  Kuruman  |  Polisie-Ondersoek  |  Aangeval  |  Onderwyseres  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.