Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onnie se dogter praat ná mesaanval op ouers

“Dit is baie moeilik. Dit voel of ons een tree vorentoe gee en vyf treë terug.”

So het Alet van Wyk, enigste dogter van Helga van Wyk (62) en haar man, Johann van Wyk (65), Dinsdag vertel.

Die egpaar is Sondagaand in hul huis in die woonbuurt Vierlanden in Durbanville deur ’n onbekende man aangeval.

Johann en Helga van WykFoto: Facebook

Helga, ’n jare lange onderwyseres aan die Hoërskool Monument Park in Kraaifontein, is met ’n mes in die hart gesteek. Sy is kort daarna in haar bed dood. Johann het vyf steekwonde opgedoen, maar het die aanval oorleef. 

’n Gebroke en hartseer Alet sê dit is uiters moeilik om die gebeure te verwerk. Sy en haar broers, André en Schalk en hul gesinne, bring baie tyd deur by hul pa se hospitaalbed in die Mediclinic Durbanville.

“Hy is op die oomblik stabiel,” sê Alet.

Haar pa is ’n afgetrede advokaat.

“Hy het nog maar baie pyn, maar hy is darem buite gevaar. Die dokters is positief.”

Sy sê een van die vyf meshoue het sy maag stukkend gesteek, en dit moes toegewerk word. Die ander meshoue het sy organe gemis.

“Hy het al so nou en dan wakker geword en vir ons bietjie vertel van wat gebeur het,” sê Alet. “Maar ek wil nie eintlik daaroor uitwei nie. Hy kry maar sterk pynmedisyne en ons weet nog nie regtig wat die feite is nie.”

Sy sê haar pa het hulle vertel daar was net een aanvaller.

“Hy sê die man was baie aggressief. Hy het hulle nie eens ’n kans gegee nie . . .”

Die blomme en kerse wat vir Helga van Wyk aangesteek is by die skool.

Terwyl sy oor haar ma, ’n geliefde hoërskoolonderwyseres by dieselfde skool waar haar kinders skoolgegaan het, praat, raak Alet baie emosioneel.

“Ons familie is darem bymekaar en ondersteun mekaar,” sê Alet tussen haar trane deur. “Dit is net so erg dat dit met hulle moes gebeur.”

Jo Els, Schalk se skoonpa wat ’n landdros in Tarkastad in die Oos-Kaap is, sê hulle is veral bekommerd oor Schalk omdat hy op sy ma afgekom het.

“Niemand moet deur so iets gaan nie. Ek kan my nie eens indink hoe dit moet wees nie,” sê Els.

Hy sê hy en sy gesin sal Kraaifontein toe kom vir Helga se begrafnis of gedenkdiens. Volgens Alet is daar nog nie besluit wanneer dit gaan wees nie.

Sy sê sy en haar broers sal wel ’n gedenkdiens vir hul ma, wat Vrydag by die skool gehou word, bywoon. Helga was byna 30 jaar die Afrikaans-onderwyser by Monument Park vir gr. 10- tot gr. 12-leerlinge.

’n Kennis van Helga, wie se kind in haar klas was, het haar Dinsdag beskryf as ’n rolmodel vir leerlinge.

Die Hoërskool Monument Park in Kraaifontein.Foto: Ané van Zyl

Lees meer hier: Vermoorde onnie was ‘liefdevol, voorbeeld vir almal’ 

Marieett van Staden (47) se dogter, Michaela (nou 21), is erg geskok oor die moord op haar oudonderwyseres.“Michaela is so hartseer. Sy onthou juffrou Helga as ’n liefdevolle, sagte mens wat regtig lief was vir haar werk,” sê sy.Van Staden bestuur die snoepie by die skool en Van Wyk het glo gereeld kos by haar bestel.“ ’n Mens kon haar altyd deur ’n ring trek. Sy was pragtig en het baie mooi na haarself gekyk. Sy was ook baie professioneel, ’n ware voorbeeld vir die leerlinge in haar klas en in die skool.“Sy was ondersteunend en het die kinders moed ingepraat, en was baie gewild onder hulle. Dit is vreeslik tragies. Niemand verdien dit om só te sterf nie.”Medelye stroom steeds in op sosiale media en die Kaapse operasanger Christine Bam is een van die mense wat gereageer het.“Rus in vrede, Helga van Wyk. Wat ’n eer om jou te ken, saam te werk en te sien hoe jy lewens verander het,” skryf Bam op Facebook.“Ek dink aan haar man in die hospitaal, kinders en familie. En natuurlik, aan almal wat in die 20 plus jaar wat sy Afrikaans gegee het, in haar klas was. Mag die Here julle lei in dié tyd.”Die skool is Maandag gesluit nadat die nuus van die aanval op die geliefde onderwyser aan leerlinge oorgedra is. Die skool moes noodgedwonge Dinsdag aangaan met verrigtinge, maar die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) het berading aan die leerlinge verskaf, lui ’n verklaring van Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder.Dinsdag was daar ’n uitstalling met blomme, kerse en ’n mooi foto van Helga in die skool se voorportaal. Die skoolhoof, Kallie Stevens, wou geen kommentaar lewer buiten om te sê die skool hou ’n gedenkdiens vir Helga nie.Die polisie sê niemand is al in hegtenis geneem nie. Die ondersoek duur voort.

Meer oor:  Hoërskool Monumentpark  |  Helga Van Wyk  |  Durbanville  |  Onderwyser  |  Misdaad  |  Moord  |  Mesaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.