Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onnie vertel hoe sy terugbaklei teen seun met lang mes

Die lang letsel is duidelik sigbaar op haar regterwang. Nog een lê oor haar neus en lip. Karin Coetzee wys daarna en sê: “Hiérdie is my storie om te vertel.”

Die 33-jarige Afrikaans-onderwyseres van Edenburg in die Vrystaat is dankbaar om te leef nadat sy drie weke gelede deur ’n 15-jarige leerling met ’n slagtersmes in haar huis aangeval is.

Karin Coetzee en haar dogtertjie, Courtney (3), wat steeds nagmerries kry oor die aanval. Foto: Deon Raath

Rapport het haar Donderdag besoek waar sy tuis aansterk.

Coetzee, haar twee kinders en ’n vriendin, Neline Jacobs, was op die dag van die aanval ná 17:00 in die tuin toe Jacobs se motoralarm afgaan.

“Ons het opgestaan en om die huis geloer. Daar was ’n koel windjie en ons is binne toe.”

Karin se dogtertjie, Courtney (3), het gaan televisie kyk en Jacobs is badkamer toe.

Karin het op die foon met haar ma gepraat toe sy haar vriendin hoor skree.

Toe sy opkyk, het die 15-jarige seun met die mes in die hand reeds by haar gestaan.

Coetzee kort ná die aanval.

Aan sy hand was Courtney.

Coetzee se seuntjie, Eliah (19 maande), het agter haar gestaan.

“Ek het Eliah baie hard in die slaapkamer ingestamp en vir my ma gesê sy moet nóú kom.”

Toe probeer Coetzee die meshoue met haar selfoon afweer.

Sy is in haar wang, lip en kop gesteek.

Die snye aan haar neus en bolip was tot aan die binnekant van haar mond.

“Ek het net gefight. Hy het nie gesteek nie, hy het die mes van bo af gekap.”

Met bloed wat oor haar oë stroom, het sy aanhou keer, maar in haar eie bloed gegly en op haar knieë te lande gekom. Toe steek hy haar agter in die nek.

“Hy was soos ’n besetene met ’n demoon in hom. Hy het gekom om my dood te maak,” sê Coetzee.

Die senuwees aan haar hand is raakgesny, maar kon in ’n tweede operasie geheg word.

“Elke keer wat ek probeer opkom en gegly het, het ek aanhou dink: Jy gaan my nie wen nie; jy gaan my nie wen nie.”

Sy het agteruit getree en toe hulle in die eetkamer kom, het Karin vir haar aanvaller gesê: “Jy is vas, hier is die polisie nou.”

Die seun is na die veiligheidshek, wat Karin gesluit het toe hulle binne toe is. Hy het gesukkel om die hek oop te kry en Karin het gehelp.

Toe die kind buite kom, het hy rondgekyk en besef die polisie is nie daar nie, maar Karin het toe reeds die hek gesluit.

Die onderwyseres wéét sy was nie daardie dag alleen nie. “Die Here was by my.”

Binne minute was daar “skares mense” by haar.

Haar man, Dewald (36), ’n regsadviseur in Bloemfontein, is saam met haar per ambulans Bloemfontein toe, waar sy geopereer en steke in haar kop-, gesig-, nek- en handwonde gesit is.

Haar regterarm is steeds in gips omdat ’n tendon afgesny is.

Karin sien ’n sielkundige en haar kinders is steeds by ’n spesialisterapeut.

Die Edenhoogte Primêre Skool, waar sy skoolhou, en die gemeenskap staan haar by.

Coetzee glo die aanval was uit weerwraak omdat sy klagte teen die seun by die polisie ingedien het nadat hy in Augustus verlede jaar herhaaldelik klippe na haar motor gegooi het.

Meer oor:  Karin Coetzee  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.