Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ons bespeur nuwe benadering by polisie’ – Agri SA

Die polisie en plaaswagte hoop om in die toekoms ’n groter sigbaarheid in die landelike gebiede te hê om plaasaanvalle en -moorde te probeer voorkom.

Daar sal ook nouer saamgewerk word om nuwe lewe te blaas in landelike veiligheidskomitees op plaaslike vlak, terwyl organisasies soos Agri SA ook op die nasionale en provinsiale gesamentlike operasionele en intelligensiestrukture (Nat- en Provjoints) verteenwoordig sal word.

Tommie Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid. Foto: André Damons

Ander landbou-organisasies, soos byvoorbeeld TLU SA en Saai, sal ook betrek word.

Dít volg op ’n vergadering tussen die polisie en die bestuur van Agri SA.

Lt.genl. Moeketsi Sempe, afdelingskommissaris vir sigbare polisiëring, het die polisie op die vergadering verteenwoordig.

Agri SA en die polisie sê in ’n gesamentlike verklaring dat albei die organisasies oor die hoë voorkoms van plaasaanvalle en misdaad in die algemeen in die landelike gebiede bekommerd is.

Tommie Esterhuyse, Agri SA se hoof van landelike veiligheid, het Woensdagoggend gesê hy is baie optimisties oor die jongste gebeure.

“Ek bespeur ’n nuwe benadering by die polisie,” sê Esterhuyse, ’n boer in die Noord-Vrystaat.

Pres. Cyril Ramaphosa het die polisie onlangs opdrag gegee om ook op plaasaanvalle en -moorde te fokus.

Volgens hom is hy ook veral optimisties daaroor omdat iemand soos Sempe in bevel van sigbare polisiëring is. “Ons ken mekaar al die afgelope tien jaar sedert hy provinsiale kommissaris van die polisie in die Vrystaat was. Hy is iemand wat sterk ingestel is op behoorlike bevel en beheer,” sê Esterhuyse.

“Wat ook goed is, is dat die samewerking geskied in ’n tyd waarin ses gespesialiseerde eenhede ook betrek sal word om misdaad in die landelike gebiede te ondersoek.”

Op die vergadering is onder meer ook ooreengekom om ’n meer doelbewuste poging aan te wend om reserviste onder boere en plaaswerkers te werf.

Die destydse ontbinding van die weermag se kommandostelsel het ’n veiligheidsvakuum in die landelike gebiede veroorsaak.

Daar sal ook seker gemaak word dat plaaswagte en gemeenskapstrukture te alle tye binne die raamwerk van die reg en beleid optree.

Die destydse ontbinding van die weermag se kommandostelsel het ’n veiligheidsvakuum in die landelike gebiede veroorsaak.

Voorts sal daar deur nouer samewerking probeer word om ’n oplossing vir een van die boere se groot kopsere te vind – die onwettige jag met honde.

Die polisie en Agri SA sal ’n gesamentlike werkgroep stig om aan al dié uitdagings aandag te gee, lui die verklaring.

Op die vergadering is ook gepraat oor die uitdagings met die toepassing van die hersiene nasionale veiligheidstrategie vir landelike gebiede om, behalwe plaasaanvalle, ook algemene misdaad en veediefstal te bekamp.

Die jongste hersiene plan is aan die einde van verlede jaar in werking gestel.

Daar is op die vergadering ook ooreengekom om ’n taakgroep op die been te bring wat ’n strategiese ontleding sal doen van die hulpbronne wat nodig is om die veiligheidsplan doeltreffend toe te pas.

Agri SA sal ook in dié taakgroep dien.

Meer oor:  Polisie  |  Agri Sa  |  Plaasmoorde  |  Landbou  |  Landelike Veiligheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.