Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ons het jou hond; bring geld’

’n Johannesburgse vrou sê “ontvoerders” het haar Skotse terriër Dinsdag gevat en geëis dat sy eienaar ’n losprys betaal voordat hulle hom teruggee.

Veilig tuis! Ailene Barlow met haar Skotse terriër, Macgregnor. Foto: Elizabeth Sejake

Die drie mans het egter nie rekening gehou met Ailene Barlow (37) van Boskruin se onverskrokkenheid nie.

Toe sy hulle op die afgespreekte plek ontmoet, het sy die hond uit die “ontvoerder” se hande gegryp, met hom in die motor gespring en die deure gesluit.

Barlow sê haar hond, Macgregnor, het Dinsdag uit haar erf verdwyn terwyl sy by die gimna­sium was. Haar blyplek is een van ’n paar op dieselfde perseel en is omhein.

Sy vermoed haar hond het deur die palissadeheining rondom haar huis ontsnap en is toe óf by die hoofhek uit toe bouers by die erf in en uit is, óf is gesteel deur iemand wat hom as een van die bouers voorgedoen het.

‘Ek het geweet daar is wagte.’

Haar nommer is op ’n plaatjie om die ses maande oue Macgregnor se nek.

Toe Barlow om 09:00 uit die gimnasium kom, was daar onbeantwoorde oproepe van ’n onbekende selfoonnommer op haar foon. Nog voor sy kon terugbel, het ’n man weer van die nommer geskakel en gesê hulle het haar hond gevind en “dat sy geld moet bring”.

“Hulle het nooit ’n bedrag genoem nie en ek het gesê ek gee hulle niks totdat ek my hond sien nie,” sê sy.

Toe sy die oproep kry, was dit die eerste wat sy gehoor het dat haar hond weg is en sy is inderhaas huis toe om te gaan kyk.

Sy sê sy het dadelik besluit sy sou die “ontvoerders” nie betaal nie, maar sy sou haar hond terugkry. Die mans het gesê sy moet hulle by ’n supermark in die omgewing, sowat vier blokke van haar huis af, ontmoet.

“Ek was bangerig, maar ek het die plek geken waar hulle wou ontmoet en ek het geweet daar is veiligheidswagte by die sentrum. Ek het niks waardevols saamgeneem nie, ook nie my foon nie.”

Drie mans het vir haar gewag, een met Macgregnor in sy arms. “Hulle het aanvanklik gesê hulle het hom in ’n park gevind, maar hul storie het aanhoudend verander,” sê Barlow.

Sy het haar hond uit die man se arms gegryp, in haar motor gespring en die deure gesluit. “Hulle het rondom my kar gaan staan en ek het besef ek moes wegkom. Ek het net weggetrek,” sê Barlow.

“As ek dit nie gedoen het nie, het dinge dalk anders verloop,” sê sy.

Sy is oortuig Macgregnor is van haar huis af weggevat. “Daar is nie ’n manier wat my hond, wat nog ’n baba is, vier blokke ver sou afdwaal nie.”

Rapport het die afgelope week die nommer geskakel wat Barlow gekontak het. Ene Emmanuel Ground het gesê hy ken nie die mense wat die hond gevind het nie en dat die drie mans bloot sy selfoon wou leen om die hond se eienaar te bel.

“Ek ken hulle glad nie. Ek het besluit om my foon vir hulle te leen omdat hulle die hond by hulle gehad het. Ek het gedink ek doen ’n goeie daad, maar ek kry nou selfoonboodskappe dat ek die hond gesteel het,” sê hy.

Barlow sê sy weet van soortgelyke voorvalle in Greymont, sowat 12 km vanaf Boskruin.

“Honde word gesteel en dan eis mense ’n beloning.”

Barlow het Macgregnor vir R5 000 by ’n teler gekoop.

Sy twyfel of hy seergemaak is en vermoed hy is bloot rondgedra. “Hy is sy ou self.”

Kapt. Kay Makhubela, ’n polisiewoordvoerder, sê geen sake is al in dié verband ingedien nie en dat dit belangrik is vir mense om ná sulke voorvalle klagte van diefstal en afpersing te open. Die polisie kan dan sake ondersoek en teen skuldiges optree.

Meer oor:  Ontvoering  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.