Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bonnievale: ‘Ons wil nie terug na moordhuis’

Hulle wil nie teruggaan na die huis waar haar ma aangeval en haar pa vermoor is nie, sê Annelie Wessels (23).

Sy het Dinsdag in trane vertel van die aanval deur vier mans op haar ouers, Tool en Liezel Wessels (albei 55), Maandagaand vroeg op hul plaas digby Bonnievale in die Wes-Kaap.

Tool en Liezel Wessels saam met hul dogters, Annelie (23) en Jana (20). Foto: VERSKAF

Sy wil nie weet wat presies gebeur het nie, sê sy.

“Ek wil nie die besonderhede weet nie.

“Ek het vir almal gevra om nie vir my te sê nie.”

Sy sê haar ma wil ook nie na die huis terugkeer nie.

Tool Wessels, wat op Kapteinsdrif net buite die dorp met vrugte en wingerd geboer het, het Maandag pas by die huis aangekom nadat hy van sy werkers gaan aflaai het.

Hy sou daarna na ’n kooroefening gaan en sy vrou was op pad na ’n selgroep van die kerk.

Liezel Wessels is ’n kranige tweekampatleet en het kort voor die aanval nog geoefen.

Lt.kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, het gesê met Tool se aankoms omstreeks 18:30 het vier gewapende mans die egpaar oorval.

Hulle is vasgemaak, met kookwater gebrand en gyselaar gehou terwyl die rowers kontant en ander buit gesoek het.

Volgens ds. Willem Liebenberg van die NG kerk in Bonnievale het Liezel, wat in die bors gesteek is, in ’n stadium flou geword.

Nadat sy haar bewussyn herwin het, het sy daarin geslaag om weg te kom en na die bure te ry om hulp te kry.

Sy het ook die polisie ontbied.

Annelie het gesê haar ma het ook hulp per e-pos probeer ontbied.

“Die e-posse het lank geneem om deur te kom, maar toe ek dit kry, het ek die polisie gebel. Hulle was toe reeds bewus van die situasie.”

Sy en haar suster, Jana (20), het hulle gehaas na die Mediclinic Worcester, waar hul ma opgeneem is.

Hulle studeer albei aan die Universiteit Stellenbosch aan M-grade in die ekonomiese veld.

Liezel is van die hospitaal in Robertson na Worcester oorgeplaas.

Volgens Traut is Tool se lyk eers later naby ’n pomphuis, sowat 200 m van die plaashuis, gevind.

Piet en Elmien Steyn van die plaas Zandfontein naby die dorp is op 13 Desember vermoor in hul bed gevind.

Liezel is in die hospitaal van haar man se dood in kennis gestel.

“Ek dink my ma het geweet, maar ons het eers later die aand met haar oor my pa gepraat,” het Annelie gesê.

“Dit voel glad nie werklik nie.”

Liezel is in ’n stabiele en rustige toestand met haar kinders en familie wat by haar is, het Liebenberg gesê.

“Die hele gemeenskap is stom, geskok en getraumatiseer.”

Volgens hom was Tool ’n “warm, humoristiese, lagmens”.

“Hy het nie vyande gehad nie en was ’n geliefde vriend. Hy het altyd so baie gelag,” het Liebenberg gesê.

“Hy sou ’n mens altyd help, maak nie saak wat nie. Hy was ’n voorbok en het ’n groot talent gehad om met mense te werk.”

Niemand is nog in verband met die aanval in hegtenis geneem nie.

Dit is die tweede moord binne vyf maande in die Bonnievale-distrik.

Piet en Elmien Steyn van die plaas Zandfontein naby die dorp is op 13 Desember vermoor in hul bed gevind.

Meer oor:  Tool Wessels  |  Liezel Wessels  |  Bonnievale  |  Plaasmoord  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.