Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ontvoerde oud-onnie (70) ‘bid dag en nag’ in sinkhuis

“Ek het nog nooit so baie gebid nie, ek het dag en nag gebid,” sê Robert Tshola (70) van Welkom in die Vrystaat.

Tshola, ’n oudonderwyser van Thabong, is verlede Maandag uit sy huis in Reitzpark ontvoer en eers Donderdagaand vrygelaat.

Robert Tshola (70) vertel Maandag van sy ontvoering en aanhouding in ’n sinkhuis buite Virginia.Foto: Alet van der Walt

Vyf mans het hom in sy huis in Reitzpark aangeval.

“Hulle het die huis geplunder en my met ’n pistool en ’n knuppel oor my kop en in my gesig geslaan,” sê Tshola, wat alleen bly.

Hy is by ’n voertuig ingedwing en ook van die artikels wat hulle gesteel het, is in sy motor gelaai en toe het hulle weggery. “Ek kon sien ons ry in Virginia se rigting.”

Hy sê ná ’n ruk het hulle op ’n plaas stilgehou waar heelparty sinkhuise staan. Hy weet nie waar dié plaas is nie, maar meen dit is aan die buitewyke van Virginia.

Tshola noem die mans maberete, omdat hulle barette gedra het. Van hulle het ook uniforms, soortgelyk aan dié van die polisie en veiligheidswagte, aangehad.

Hy is in ’n sinkhuis aangehou en is dag en nag opgepas.

Tshola sê die mans het hom verbied om by die openings van die sinkhuis uit te kyk.

“Daar was gedurig mans wat by die sinkhuis aangekom het en in die nag het hulle saam met my in die sinkhuis geslaap voordat hulle weer vroegoggend geloop het.”

Tshola, ’n diabeet, sê hy het gereeld kos en water gekry.

“Die mans het my bankkaart se kode geëis, maar ek het die laaste twee syfers omgeruil.”

Sy ontvoerders het dit agtergekom, maar kon net R2 000 onttrek omdat hy ’n limiet van R1 000 per dag het.

“Van hulle het gesê ek is te oud om dood te maak. Hulle het besluit om my in die nag naby my huis te gaan aflaai.”

Tshola sê twee mans het hom toe Donderdagnag by ’n verkeersirkel naby Reitzpark afgelaai.

“Ek was verskriklik bang ander tsotsi’s kry my op straat en maak my dood. Ek het eers ’n tyd lank weggekruip. Ek het so seer gehad ek kon skaars loop,” sê hy.

Ná ’n ruk het hy by ’n huis geklop om hulp te kry en die huismense het die polisie geskakel.

Tshola is in die waakeenheid van die MediClinic Welkom opgeneem, maar is intussen na ’n gewone saal verskuif.

Hy was Maandag nog te swak om te loop.

Kapt. Stephen Thakeng het die voorval bevestig.

Meer oor:  Vrystaat  |  Welkom  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.