Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Ontvoerde’ pa toe in jaagtog agter gesteelde bakkie aan
Bart Harmse, sy dogter Denise (14, links) en sy vrou, Yvonne (36). Foto: Isabel Venter

Inwoners van Delmas het Donderdag sonder aarseling ingespring en gehelp soek na ’n pa wat vermoedelik ontvoer was.

Bart Harmse (59) was toe al die tyd in ’n wilde jaagtog gewikkel om sy gesteelde bakkie op te spoor.

Veiligheidswagte het die situasie, wat hom Donderdag omstreeks 10:00 voor die Bernice Samuel-hospitaal afgespeel het, verkeerd vertolk.

Harmse, sy vrou en dogter het by die hospitaal gewag om ’n dokter te sien. Net voor sy afspraak het hy besluit om gou buite te gaan rook.

“Terwyl ek daar staan en rook, sien ek hoe my bakkie ge-reverse word en daar gaat hulle met hom. Toe steel hulle my bakkie,” sê Harmse.

Twee mans, wat die oorblufte Harmse te hulp gesnel het, het aangebied om agter die diewe aan te ry.

Harmse het sonder aarseling in die twee mans se voertuig gespring om sy wit Golf Caddy in te haal. Hy het eers ná die tyd besef hy kon dalk saam met die diewe se makkers weggejaag het.

“Ek het in daardie stadium net daaraan gedink om my bakkie terug te kry. Ons het nie ’n ander voertuig nie,” het Harmse gesê.

Ek het in daardie stadium net daaraan gedink om my bakkie terug te kry. Ons het nie ’n ander voertuig nie.

Intussen het Yvonne (36), Harmse se vrou, by die hospitaal inmekaargesak toe sy hoor haar man is weg. Dit is nadat Denise (14), die egpaar se oudste dogter, gaan ondersoek instel het toe haar pa te lank wegbly en die veiligheidswagte toe aan haar verduidelik het dat hy “ontvoer” is.

“Ek kon nie glo wat ek hoor nie, ek het so groot geskrik,” het Yvonne gesê, terwyl trane in haar oë opwel.

Die polisie en plaaslike buurtwag is dadelik in kennis gestel en strate is afgesper sodat Harmse opgespoor kan word.

Harmse en sy twee weldoeners het toe al reeds op die Bapsfontein-pad getrek. Hulle het die twee diewe verder agtervolg tot voor die Batlahong-nedersetting. Hier het die verdagtes vinnig verdwyn, en moes Harmse sonder sy bakkie terugkeer.

In Delmas was hy uit die veld geslaan oor die soektog na hom. ’n Emosionele Yvonne en Denise was maar net te bly dat hy lewend terug is.

“Maar nou sit ons met ’n ander probleem. Al ons geld was in die bakkie. Ook Denise en my jonger dogter se geboortesertifikate, ons Sassa-papiere . . . als, als wat ons nou nodig het,” het Yvonne opnuut emosioneel gesê.

Maar nou sit ons met ’n ander probleem. Al ons geld was in die bakkie. Ook Denise en my jonger dogter se geboortesertifikate, ons Sassa-papiere . . . als, als wat ons nou nodig het.

Die gesin was verwese Donderdagmiddag toe hulle ’n klag van diefstal by die Delmas-polisiekantoor ingedien het.

Die hoop is skraal dat hul bakkie teruggevind sal word. Netwerk24 verneem die plaaslike polisie het hul hande vol met ’n beweerde motordiefstalsindikaat wat in die dorp bedrywig is. Drie voertuie is juis binne ’n kort tydjie voor die hospitaal gesteel.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder in Mpumalanga, het bevestig dat ’n saak van motordiefstal ondersoek word.

Meer oor:  Bart Harmse  |  Delmas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.