Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ontvoerde sakeman ‘is nie gesond’

Die sakeman van Kaapstad wat Maandag deur vyf onbekende mans by sy werkplek in Parow ontvoer is, is volgens ’n bron na aan die familie baie sieklik.

Volgens die bron het Liyaqat Parker (65) vroeër ’n hartoperasie gehad en is hy op medikasie wat onder meer help om sy bloed te verdun en te keer dat bloedklonte in sy are vorm.

Liyaqat Parker is Maandag ontvoer. Volgens sy familie-woordvoerder was die ontvoerders nog nie met sy familie vir ’n losprys in verbinding nie. Foto: Verskaf

Parker is die hoofstigterslid van die Foodprop Group.

Volgens die bron gebruik Parker ses verskillende soorte medisyne.

Dit is: Plavix, Ecotrin, Pentasa, ’n Humira-inspuiting, Rosuvastatin en ’n Isoniazid-antibiotika.

Die Plavix word gebruik om bloed te verdun en om die risiko van ’n hartaanval te verminder.

Ecotrin is ook ’n bloedverdunner. Pentasa word gebruik vir die behandeling van ’n inflammatoriese dermkanaalsiekte.

Die Humira-inspuiting is vir rumatoïde artritis.

Rosuvastatin word gebruik om cholesterol te beheer en die Isoniazid-antibiotika word gebruik vir die behandeling van tuberkulose.

Waleed Brown, die Parker-familie se woordvoerder, het Woensdag gesê die ontvoerders was nog nie met Parker se familie in kontak nie.

Brown het bevestig dat Parker gesondheidsprobleme het, maar sê dis nie ’n hartprobleem nie.

Hy wou ook nie sê watter soort medikasie Parker gebruik nie.

Kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, het Woensdag gesê dat die ondersoek na die ontvoering voortgaan. “Daar is nog geen nuwe verwikkelinge om met die media te deel nie. Hierdie is ’n hoogs sensitiewe saak.”

Van Wyk het gesê die saak word ook deur speurders verbonde aan die provinsiale speurkantoor ondersoek. “Ons kan egter nie inligting deel wat nog nie in die hof was nie,” het hy gesê.

Dan Plato, LUR belas met gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê hy verneem dat genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof, die ondersoek lei.

Daar is Dinsdag berig dat lede van die polisie se gyselaarsonderhandelingspan en hul tegniese ondersteuningspan by Parker se luukse dubbelverdiepinghuis in Plattekloof was.

Die tegniese ondersteuningspan is die mense wat op telefone en selfone meeluister en kan naspoor waarvandaan gebel word.

Daar is Woensdag berig dat die ontvoerders glo R50 miljoen in bitcoin van sy familie geëis het. Brown het dit ontken.

Vyf mans het Parker Maandag kort ná 08:30 oorrompel nadat hy in die ondergrondse parkeerterrein by sy maatskappy se hoofkantoor in Parow ingery het.

Die maatskappy se rekenmeester was saam met hom. Een van die mans het die rekenmeester glo met ’n vuurwapen geslaan.

’n Veiligheidswag is glo met ’n vuurwapen gedreig en by ’n badkamer ingedwing.

Die maatskappy se webtuiste was Woensdag gesluit.

Dan Plato, LUR belas met gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê hy verneem dat genl.maj. Jeremy Vearey, Wes-Kaapse speurhoof, die ondersoek lei. “Dis bekwame mense en ek hoop dat hulle die saak vinnig kan oplos,” sê hy.

Meer oor:  Foodprop Group (Fpg)  |  Liyaqat Parker  |  Parow  |  Ontvoerde Sakeman  |  Gesondheid  |  Losprys
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.