SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Misdaad
Ontvoerders eis glo R50 miljoen in Bitcoin
Liyaqat Parker, stigterslid van die Foodprop Group, is Maandag ontvoer. Sy ontvoerders eis glo ’n losprys van R50 miljoen in Bitcoin.

Die ontvoerders van die Kaapse sakeman Liyaqat Parker (65) eis na verneem word R50 miljoen in Bitcoin as losprys.

Die ontvoerders het die eis glo Dinsdag in ’n e-posboodskap aan die familie gestuur.

Vyf mans het Parker Maandag kort ná 08:30 oorrompel nadat hy in die ondergrondse parkeerterrein by sy maatskappy, die Foodprop Group (FPG), se hoofkantoor in Parow ingery het.

Die maatskappy se rekenmeester was saam met hom. Een van die mans het die rekenmeester glo met ’n vuurwapen geslaan.

’n Sekerheidswag is glo met ’n vuurwapen gedreig en by ’n badkamer ingedwing.

Waleed Brown, ’n prokureur wat namens die Parker-familie praat, het Dinsdag gesê hy dra geen kennis van die losprys wat geëis is nie.

Dinsdag het voertuie van onder meer die polisie se gyselaaronderhandelingspan en hul tegniese ondersteuningspan in die straat voor Parker se luukse dubbelverdiepinghuis in Plattekloof gestaan.

Uit ’n ander bron is verneem die tegniese ondersteuningspan is die mense wat telefone en selfone meeluister en kan naspoor van waar gebel is.

’n Polisiebeampte wat deel is van die spanne het alle navrae na Brown verwys. Hy het gesê die familie is nie bereid om nou al met die nuusmedia te praat nie.

Parker se familie het Dinsdag die eerste keer hul stilswye verbreek in ’n verklaring wat deur Brown uitgereik is.

Die familie vra dat enigeen met inligting oor die voorval die ondersoekbeampte, konst. Chesron de Vries by 082 493 8472, die familie, of Brown moet kontak.

Volgens sy familie is Parker se gesondheid nie van die beste nie. Hulle vra dat die mense wat hom aanhou, hom vrylaat voordat sy gesondheid verder versleg.

Na verneem word, is Parker se selfoon soek. Hy het dit glo Maandagoggend die laaste keer by sy huis gebruik. Sy huis is sowat vier kilometer van sy onderneming se hoofkantoor. Daar is drie roetes wat gevolg kan word, maar slegs een ingang na Foodprop se kantoor.

Die Foodprop Group (FPG) het in 1980 die Foodworld-

maatskappy met sy eerste koswinkel in Bishop Lavis begin. Dit is met winkels in Elsiesrivier en die Paarl uitgebrei. Die winkels is later aan die Shoprite-groep verkoop.

Die maatskappy besit onder meer die Brackenfell-winkelsentrum, Cape Gate Lifestyle Centre, Willowbridge Village, Laguna Mall en nog ander groot winkelsentrums in die Wes-Kaap. FPG is ook ’n konsessiehouer van die kitskosgroep KFC in Suid-Afrika en is betrokke by eiendomsontwikkeling in Brittanje.

Parker is ’n direksielid van Al-Amien Foods en ’n nie-uitvoerende direksielid van Brimstone Investment Corporation.

Kassie:

Hy is bekommerd oor die toename in ontvoerings van sakelui in die Wes-Kaap vir ’n losprys. Ontvoerings in die provinsie durf nie ’n nuwe bron van inkomste vir misdadigers word nie, sê Dan Plato, Wes-Kaapse LUR belas met gemeenskapsveiligheid.

Volgens Plato is Parker die vierde sakeman wat die afgelope twee jaar vir ’n losprys ontvoer is.

Hy het gesê die polisie moet seker maak dat diegene wat vir die ontvoerings verantwoordelik is, in hegtenis geneem word. Hy gaan aan lt.genl. Khombinkosi Jula, provinsiale polisiehoof, skryf en hom vra om van sy beste speurders aan te stel om die voorval te ondersoek en na die verband met die ander voorvalle te kyk.

Meer oor:  Liyaqat Parker  |  Bitcoin  |  Ontvoerders  |  Ontvoering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.