Centurion se huiseienaars is woedend dat hulle ’n veiligheidsmaatskappy nou duisende rande moet betaal omdat die buurtwag nie patrollies mag ry tydens die staat van inperking nie.

Ruan du Plessis, operasionele koördineerder van AfriForum se Oos-Moot-buurtwag. Foto: Deon Raath
JC van Schalkwyk, voorsitter van die Gerhardsville-hoewewag by Centurion, sê hulle moes inderhaas ’n veiligheidsmaatskappy aanstel om patrolliewerk vir hulle te doen omdat buurtwagte ingevolge die inperkingsreëls nie as ’n noodsaaklike diens beskou word nie.
“Dit kos ons nou tussen R12 000 en R18 000 per maand vir private veiligheidsdienste omdat ons nie toegelaat word om onsself te beveilig nie en die polisie by te staan om misdaad in ons woongebied te bekamp nie,” sê hy.
“Dit is vir ons ’n nagmerrie, want ons word ingevolge die inperkingsreëls nie eens toegelaat om saam met die veiligheidsdienste te ry om vir hulle te wys waar die brandpunte is nie.”
Van Schalkwyk sê die buurtwag se reaksietyd is uitstekend, maar hulle is nou op die plaaslike polisie aangewese, wat glad nie die hulpbronne het om die taak te verrig nie.
“Daar is geen waarborg dat die polisie gaan reageer as daar ’n misdaad-insident is waar mense se lewens in gevaar gestel word nie.
‘Geen waarborg dat polisie reageer.’
“Sedert die begin van die inperking het ons al ’n paar insidente gehad waar drade geknip is om toegang tot mense se persele te verkry,” sê hy.
Gary Badenhorst, voorsitter van die West Village-buurtwag in Krugersdorp, sê hulle vind opportunistiese misdaad neem klaar toe en hy vrees misdadigers gaan al hoe groter kanse waag as hulle besef die woongebied word nie behoorlik gemonitor nie.
Louis Meintjes, president van die landbou-organisasie TLU SA, sê boere is erg gefrustreerd hieroor. Hy sê landelike veiligheidstrukture is aan die begin van die inperkingstydperk toegelaat om patrolliewerk te doen en dat hulle op aandrang van stasiebevelvoerders gehelp het om reëls oor sosiale afstand toe te pas.
Bheki Cele, minister van polisie, het egter verlede week beveel dat alle patrollies deur gemeenskapsveiligheidsgroepe met onmiddellike effek gestaak word. “Die besluit is absoluut sinloos,” sê Meintjes.
Kobus Visser, hoof van landelike veiligheid by Agri SA, sê hulle kan nie nou landelike veiligheid doeltreffend toepas nie omdat plaaswagte nie beskou word as mense wat noodsaaklike dienste lewer nie. Hy sê diefstal van veral groenmielies en veediefstal op plase naby dorpe in die Vrystaat neem reeds toe.
Agri SA het Donderdag ’n versoek aan dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, gerig om plaaswagte in te sluit by die lys van mense wat noodsaaklike dienste lewer. Dlamini-Zuma is aangestel om uitvoering te gee aan die staat van nasionale inperking.
Agri SA voer in sy brief aan die polisie is aan die platteland onttrek en dat dit landelike gemeenskappe nou kwesbaarder maak vir plaasaanvalle, veediefstal en ander misdaad. Hulle vra daarom dat hul landelike veiligheidstrukture toegelaat moet word om voort te gaan met hul werk om die polisie by te staan en misdaadvoorkoming toe te pas.
Ian Cameron, hoof van AfriForum se veiligheidstakke, sê hulle wag ook vir terugvoer van Cele se kantoor nadat hulle ’n soortgelyke versoek aan hom gestuur het waarin hulle vra dat buurtwagte toegelaat moet word om hul gemeenskappe te help beskerm teen misdadigheid.
JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid in die Kaapstad-metro, sê hulle het lank met die polisie geargumenteer om buurtwagte toe te laat om voort te gaan met hul werk, maar die polisie wil nie hul standpunt verander nie. Hy sê die stad gaan nou 460 lede van buurtwagte as rampbestuur-vrywilligers aanstel om hulle toe te laat om noodsaaklike dienste te lewer en patrolliewerk te doen.
Dr. Johan Burger, senior navorser by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS), sê dit maak “hoegenaamd geen sin” om buurtwagte te verhinder om hul werk in dié tyd te doen nie.
“Die inperking beteken dat daar nog minder van die polisie se hulpbronne beskikbaar is om patrollies in woongebiede te doen en dit maak daarom sin dat buurtwagte die rol vervul.
“Buurtwagte verrig ’n ontsettend belangrike rol om misdaad te bekamp omdat dit ’n doeltreffende afskrikmiddel is en doeltreffend kan reageer op klagtes totdat die polisie self daarop kan reageer.”