Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Onwettige plakkers in Pta met rubberkoeëls verjaag

Die polisie en metropolisie van Johannesburg en Pretoria het Saterdag hul hande vol gehad met mense wat onwettig plakkershutte op oop stukke grond wou oprig en plek-plek daarin geslaag het.

Die situasie was veral gespanne by Eastlynne in die ooste van Pretoria en rubberkoeëls moes gebruik word om die mense in bedwang te kry.

Die Tshwane-metropolisie (TMPD) was van Saterdagoggend op die toneel, terwyl lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) later by hulle aangesluit het.

Snr.supt. Isaac Mahamba, TMPD-woordvoerder, sê hulle moes ingryp nadat grond onwettig beset is.

“Die mense het onwettig plakkershutte opgerig. Ons het vroeër ’n diensverskaffer aangestel wat die 180 hutte afgebreek het.

“Die mense het daarna oproerig geraak waarna hulle buitebande gebrand het. Ons moes paaie afsper. Ons was genoodsaak om hulle met rubberkoeëls uiteen te jaag. Meer as 700 koeëls is geskiet.

“Geen beserings is aangemeld nie. Niemand is in hegtenis geneem nie.”

So het die toneel vanoggend by Olievenhoutbosch gelyk

By Olievenhoutbosch wil mense steeds hutte oprig.

“Ons hou hulle fyn dop om te verseker dat hulle nie begin bou nie. Die diensverskaffer wat hutte afbreek, is op die toneel, en ons is daar om hulle te beskerm.

“Die stad sal geen onwettige plakkery op staatsgrond of grond wat deur private mense besit word, duld nie. Daar is reeds etlike interdikte in plek wat plakkery verbied. Enige wetsoortreders sal met die gereg te doen kry.

“Ons vermoed daar is mense wat die plakkers om die bos lei en erwe aan hulle verkoop. Mense wat op dié manier mislei is, moet ons kontak.

“Ons versoek die publiek om ons te bel as hulle onwettige plakkery opmerk.”

Die nommer is 012 358 7095/6 en is 24 uur beskikbaar.

In Johannesburg was dinge effens vreedsamer, maar hoofsupt. Wayne Minnaar, woordvoerder van die

Johannesburg-metropolisie (JMPD), het bevestig hulle hou die situasie op die hoek van die R562 en R55 in die Blue Hill-omgewing goed dop.

“Elkeen wat ’n struktuur of plakkershut oprig waar hy nie mag nie, oortree die wet en ons sal dit stop,” het hy gesê.

Michael Sun, burgemeesterslid vir openbare veiligheid, sê dis grondbesetting.

“Die betrokke grond is in private besit en ons doen ’n beroep op die eienaar om die polisie of JMPD dringend te kontak om eiendomsreg te bevestig. Skakel 011 375 5911.”

“Ons het ook met sekere grondeienaars kontak gemaak. Ons verstaan die private grondeienaars gaan dringende aansoeke by die hof indien om hul eiendomme

wettig te beskerm.”

Ian Cameron, nasionale veiligheidshoof van AfriForum, sê lede van die TMPD het die plakkers reeds van die grond af verwyder.

Meer oor:  Olievenhoutbosch  |  Grondbesetting  |  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.