Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oorbevolkte tronke ’n groot probleem, veral in Wes-Kaap

Oorbevolking bly waarskynlik die grootste probleem in die gevangenisstelsel, met tronke in die Wes-Kaap en Limpopo wat selfs meer as 200% oorbevolk is.

Die Regterlike Inspektoraat van Korrektiewe Dienste (Jics) dui in sy jaarverslag aan dat die tronkbevolking landwyd teen Maart vanjaar op 162 875 gestaan het, terwyl daar net kapasiteit en beddens vir 118 572 gevangenes is.

Gevangenes wat skuldig bevind is, maak 115 147 (70,1%) van die bevolking uit en 47 728 (29,9%) is verhoorafwagtend. Meer as 15 000 dien lewenslange tronkstraf uit.

Luidens die verslag vir die boekjaar 2018-’19 het die Wes-Kaap die meeste oorbevolkte gevangenisse, met veral Pollsmoor Medium B in Kaapstad wat ’n bron van kommer is.

Pollsmoor Medium B is 286% oorbevolk met 1 686 gevangenes en Pollsmoor Medium A is 122% oorbevolk met 2 471 gevangenes.

Die Knysna-gevangenis is ook 124% oorbevolk met 401 gevangenes teenoor ’n kapasiteit vir 179.

Regter Johann van der WesthuizenFoto: Verskaf

In Gauteng is Johannesburg Medium B 111% oorbevolk met 2 750 gevangenes.

Slegs twee uit 15 gevangenisse in Gauteng waar inspeksies plaasgevind het was nie oorbevolk nie, luidens die jaarverslag.

Ander gevangenisse wat meer as 100% oorbevolk is, sluit in Polokwane (208%) en Potchefstroom (122%).

In die Oos-Kaap is die drie mees oorbevolkte gevangenisse Mount Frere (191%), Lusikisiki (169%) en Flagstaff (143%).

Oorbevolking word onder meer toegeskryf aan hoë misdaadvlakke, huiwering om borgtog vir ernstige misdade toe te staan en die uitwerking van minimum vonnisse.

Hoewel die departement van korrektiewe dienste (DKD) beplan om meer beddens te verskaf, het die beskikbare ruimte die afgelope drie jaar nie noemenswaardig verander nie, volgens die Jics.

“Suid-Afrika het steeds die grootste tronkbevolking in Afrika en die 12de grootste ter wêreld.”

Johann van der Westhuizen, inspekterende regter, skryf in die voorwoord dat die toestande in talle gevangenisse “ernstig kommerwekkend” is.

“Ons gevangenisse is oorbevolk, dikwels bouvallig, ly onder korrupsie en oneerlike praktyke en is soms ’n ruimte vir geweld, marteling en sterftes. Hulle huisves gevangenes met psigiatriese steurnisse wat spesiale behoeftes het, insluitend staatspasiënte wat nie veronderstel is om in ’n gevangenis te wees nie omdat hulle nie skuldig bevind is nie, maar weens ’n tekort aan beddens in hospitale.”

Van der Westhuizen het 22 uit die 243 gevangenisse in die land tussen April 2018 en Maart vanjaar besoek.

Met sy besoeke het hy onder meer kombuise gesien wat jare laas gesondheidsertifikate gekry het, plafonne waaruit daar ontsnap kan word, gebreekte teëls wat as wapens gebruik kan word, mure wat byna ineenstort en onvoldoende veiligheidshekke.

“DKD-amptenare gee die departement van openbare werke vir baie hiervan die skuld. Daar is bewerings van gebrekkige tenders, bouprojekte wat agterweë gelaat is en korrupsie.”

Van der Westhuizen sê egter die departement van openbare werke kan nie die skuld kry vir ’n tekort aan uniforms vir beamptes en gevangenes nie, “en veral nie vir die feit dat baie gevangenes nie skoene kry nie en die winter in baie koue gebiede kaalvoet moet aandurf of in plastiekplakkies wat hul familielede gee”.

In die boekjaar is 103 sterftes weens onnatuurlike oorsake aangemeld, waarvan die oorsaak in die meeste gevalle as “onbekend of ander” aangeteken is.

Weens ’n agterstand met lykskouings en ander wetenskaplike verslae van tot vyf jaar in sommige provinsies is dit ’n voortdurende probleem volgens die Jics.

Daar is ook 28 gevalle van selfdood aangemeld, waarvan die meeste in Gauteng en KwaZulu-Natal was. In 72% van die gevalle het die gevangenes hulself gehang en in 13 van dié 20 gevalle het gevangenes in ’n enkelsel hulself gehang.

In die boekjaar is daar minstens een sterfte van ’n gevangene deur die toedoen van ’n beampte.

Die DKD het tydens inspeksies aangedui dat psigiatriese versteurings by 2 730 gevangenes gediagnoseer is.

“In die meeste gevalle ontvang hulle gereelde behandeling en is hulle stabiel genoeg om saam met die gewone bevolking aangehou te word. Gevangenes wat nie as stabiel beskou word nie, word in die mediese geriewe aangehou.”

Nog ’n uitdaging onder gevangenes, veral in die Wes-Kaap is die verskaffing van drie maaltye per dag, met 41% van gevangenis wat nie daaraan voldoen nie.

Die redes wat daarvoor verskaf word, is personeeltekorte, die huidige skofstelsel wat die DKD voorskryf en vorige arbeidsoptrede deur amptenare, lui die verslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.