Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oorlogswapens in taxi-geweld gebruik, sê Mbalula
Kapenaars moes Donderdag weer die reën en koue trotseer en ver ente stap om ’n bus na hul werkplekke te haal. Foto: Jaco Marais

Die mense agter die voortslepende taxigeweld in die Wes-Kaap gebruik glo “oorlogswapens” in die geweld, wat sedert Januarie vanjaar reeds die lewe van meer as 81 mense geëis het.

So het Fikile Mbalula, nasionale minister van vervoer, Donderdag in Kaapstad op ’n nuuskonferensie gesê. Hy het die geweld tussen die twee taxi-verenigings, Cata en Codeta, as swart-op-swart-geweld beskryf.

Hy het gesê die regering kan nie langer toekyk en niks doen terwyl mense afgemaai word nie.

“Mense word in die openbaar geskiet – kinders, onskuldige mense. Ons kan nie weer soos nou onlangs met ons broeke op ons enkels gevang word nie,” het hy gesê.

Erge taxigeweld het weer op 5 Julie tussen die twee taxiverenigings uitgebreek. Cata het geweier dat lede van die Codeta-geaffilieerde Paarl Alliance Taxi Association dienste op die taxistaanplek in Mohajanestraat en by die Shoprite-sentrum in Mbekweni lewer.

Daar was Donderdagoggend ’n groot teenwoordigheid van metro- en verkeerspolisie in Bellville waar pendelaars Golden Arrow-busse na hul werkplekke gehaal het. Foto: Jaco Marais

Daarna het die geweld na Bellville en na die onwettige taxistaanplek langs Bellrailstraat oorgespoel.

Mbalula het gesê diegene wat agter die geweld sit, is gevaarlik. Daar was gerugte dat winkelsentrums geteiken gaan word en dat verdere chaos op die taxi-roetes en -staanplekke veroorsaak sal word.

Hy het gesê dié inligting is aan die polisie oorgedra, en hy is bly dat die provinsiale polisie met ander wetstoepassingsgroepe in die Skiereiland en Boland, asook met die weermag saamwerk om die geweldpleging stop te sit.

Sowel Mbalula as Daylin Mitchells, LUR vir vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het die mense agter die geweld as “skollies” beskryf.

Mitchell het gesê ’n handjievol misdadigers in die taxibedryf hou meer as 120 000 mense gevange, en dit kan nie langer geduld word nie.

Hulle het gesê ’n vergadering Woensdag tussen Cata, Codeta, Mbalula en Mitchell se afdeling het weer op ’n dooiepunt geëindig.

Daylin Mitchell, LUR vir vervoer en openbare werke in die Wes-Kaap, het Donderdag gesê hy sal in die volgende dae besluit of hy taxistaanplekke en -roetes gaan sluit waar taxigeweld die afgelope tyd voorkom. Foto: ER Lombard/Gallo Images

Mitchell het gesê die provinsiale regering probeer nou al weke lank tevergeefs om ’n oplossing vir die geweld te vind.

Die geskil gaan oor die B97-roete tussen Mbekweni buite die Paarl na Bellville en “beide Cata en Codeta maak daarop aanspraak dat hulle alleenreg op die roete het”.

Mitchell het gesê die geskil is intussen vir arbitrasie verwys en dat dit hopelik só besleg kan word.

Hy het gesê hy het op 9 Julie ’n kennisgewing in die Staatskoerant gepubliseer waarin hy openbare terugvoering versoek oor die moontlikheid om hierdie roetes vir ’n tydperk te sluit en permitte terug te trek.

Die proses vir die openbare deelname het op 16 Julie gesluit, en hy sal die terugvoering in die volgende paar dae bestudeer en ’n besluit neem. Die media en die publiek sal op die hoogte gehou word.

Mbalula het gesê dat die nasionale regering sal enige besluit deur die provinsiale regering, “wat binne die wetlike raamwerk is,” ondersteun.

Volgens bronne was dit Woensdag duidelik op die vergadering in die Gene Louw-verkeerskollege in Brackenfell dat elke taxivereniging “sy sin wou kry”.

Fikile Mbalula, minister van vervoer, het Donderdag gesê die mense agter die taxigeweld maak van oorlogswapens gebruik. Foto: ER Lombard/Gallo Images

“Die mense kan en wil nie tot ’n vergelyk kom nie,” het een bron gesê.

Albei verenigings meen glo die roete behoort aan hulle. Toe daar glo aan hulle uitgewys is dat roetes nie aan ’n taxivereniging behoort nie, maar aan die regering, het hulle glo op die vergadering gesê die regering “het nie reg opgetree toe hy meer as een taxivereniging op die roetes toegelaat het nie”.

Die voortslepende taxigeweld het die bedryf die afgelope week in Kaapstad en in dele van die Boland tot stilstand gedwing. Pendelaars moes Donderdagoggend weer die koue en reën in Kaapstad trotseer en ver loop om ’n Golden Arrow-bus of alternatiewe vervoer na hul werkplekke te haal.

Die busdiens het Donderdag gesê tussen 80% en 85% van sy busse is weer in bedryf. Hy het Maandag sy busdienste verminder nadat gewapende mans twee van sy busse – een in Nyanga en een op Borcherds Quarry – aangeval het. Die bestuurder van die bus op Borcherds Quarry is in die gesig geskiet.

Vir nou sal pendelaars van Nyanga egter nog tot by die Borcherds Quarry-afrit na die Kaapstadse lughawe moet gaan om ’n bus te haal.

Meer oor:  Cata  |  Codeta  |  Fikile Mbalula
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.