Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oos-Kaapse boere steier onder veediefstal

Boere in die Oos-Kaap steier steeds onder veediefstal, wat hulle miljoene rand kos.

Tussen 27 Maart en 22 Junie is meer as R17 miljoen se gesteelde vee by die onderskeie owerhede in die provinsie aangemeld. Die 5 636 gesteelde diere sluit in 4 480 skape, 700 bokke, 411 beeste en 45 perde.

Dié statistieke is onlangs deur Weziwe Tikana-Gxothiwe, Oos-Kaapse LUR vir veiligheid en vervoer, bekend gemaak op ’n vraag in die wetgewer deur Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder oor veiligheid in die Oos-Kaap.

Volgens Tikana-Gxothiwe het die polisie in dieselfde tydperk ook 228 vermeende veediewe in hegtenis geneem.

Die jongste misdaadstatistieke wat verlede week deur Bheki Cele, minister van polisie, uitgereik is, het ook aangedui dat die Oos-Kaap se veediefstalsake oor die afgelope boekjaar met 1% toegeneem het, in teenstelling met die nasionale syfer wat met 4,2% afgeneem het.

Die Oos-Kaap het ook agt uit die toptien polisiekantore waar die meeste veediefstalsake landwyd aangemeld is.

Vroeër het verskeie boere in die Oos-Kaap, wat herhaaldelike slagoffers van veediefstal is, aan Netwerk24 gesê die syfers oor veediefstal is nie akkuraat nie, omdat baie boere dit nie meer aanmeld nie, omdat hulle vertroue in die polisie se vermoë verloor het.

Die Oos-Kaapse polisie het wel die afgelope Maandag 47 vermoedelik gesteelde skape in die Katkop-gebied terug gekry. Niemand is egter in hegtenis geneem nie.

Tikana-Gxothiwe het in reaksie op Stevenson se vraag ook gesê die veediefstalsake het in Desember en Januarie, wanneer veediefstal gewoonlik hoogty vier, afgeneem.

Tikana-Gxothiwe het die afname toegeskryf aan ’n multidissiplinêre benadering, wat patrollies deur kommersiële en opkomende boere insluit, gedurende die feestyd.

Stevenson het daarop gesê in die inperking van 27 Maart tot 22 Junie was plaaswagte en ander organisasies se patrollies ontoelaatbaar, wat moontlik ’n rede vir die skerp styging van veediefstal in die tydperk kan wees.

Hy meen veediefstal is erg vir die landbousektor, wat reeds gebuk gaan onder die voortslepende droogte.

Dié statistieke bewys volgens hom die belangrikheid van ’n multidissiplinêre benadering wat die samewerking van die polisie, kommersiële en opkomende boere, vleis- en gesondheidsinspekteurs, die gebruik van tegnologie soos hommeltuie, asook padblokkades insluit, om die misdaad hok te slaan.

Stevenson het ook die bykomende 33 voertuie vir die provinsie se veediefstaleenhede verwelkom en glo dit sal help met sigbaarheid en patrolliedienste.

Meer oor:  Veediefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.