Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Oos-Kaapse plaasaanvalle het verdubbel’

Die aantal plaasaanvalle in die Oos-Kaap het binne drie jaar verdubbel.

Dít blyk uit antwoorde van Weziwe Tikana, LUR vir veiligheid en vervoer in die provinsie, nadat Bobby Stevenson, die DA se woordvoerder oor veiligheid in die Oos-Kaapse wetgewer, vrae aan haar gestel het.

Duaene Truter en sy vrou, Ester (in die middel), hul seun, Dean (links), en hul dogter, Nadine. Duaene is in Maart dood ná ’n aanval op ’n plaas in die Kirkwood-distrik. Foto: Facebook

Luidens Tikana se statistieke is 26 plaasaanvalle in die 2016-’17-boekjaar in die provinsie aangemeld. Dit teenoor die 48 plaasaanvalle wat vir die 2018-’19-boekjaar in die provinsie aangemeld is.

Uit dié 48 aanvalle is drie mense dood, 30 mense beseer en een mens is verkrag.

Sedert die begin van die huidige boekjaar tot Julie was daar nege plaasaanvalle, waarin een persoon dood en nog vyf beseer is, sê Tikana.

Volgens Johandré van Zyl, AfriForum se veiligheidshoof vir die suidstreek, kon hulle reeds 16 aanvalle in die Oos-Kaap vir 2019 bevestig.

Van Zyl benadruk dat hul statistieke op ’n kalenderjaar gegrond is en nie volgens ’n boekjaar soos dié van die departement nie.

Dié burgerregteorganisasie sê die Addo- en Kirkwood-gemeenskap, wat sowat 80 km buite Port Elizabeth geleë is, is veral gebiede wat onlangs deur plaasaanvallers geteiken word en hul paraatheid sal moet verskerp word.

Luidens hul statistieke het dié gebied sedert einde Maart onder sewe plaasaanvalle deurgeloop. In die mees onlangse voorval van 1 Augustus is 24 plaaswerkers deur nege aanvallers van hul lone, kos en selfone beroof. Die rooftog het omstreeks 20:30 gebeur.

Tydens dié aanval het drie van die rowers vuurwapens gehad en die ander ses was met messe gewapen.

“Aanvalle op plaaswerkers is, net soos op boere, ’n aanval op voedselsekerheid in ons land. Daarom moet betroubare plaaswerkers ook by veiligheidsprojekte en -opleiding betrek word,” sê Van Zyl.

Duaene Truter (51), ’n plaasbestuurder van die sitrusverpakkingsaanleg Unifrutti, is in Maart vermoor nadat hy op die Dunbrody Estates-sitrusplaas, ongeveer 15 km buite Kirkwood, aangeval is.

Hy is deur drie mans oorrompel wat hom verskeie kere met ’n mes in die rug en sy gesteek het terwyl hy sy gesin tydens die aanval beskerm het. Hy is later die aand in die hospitaal dood.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê niemand is nog in verband met Truter se moord in hegtenis geneem nie.

Die aantal verdagtes wat in verband met plaasaanvalle aangekeer word, is volgens Van Zyl baie min.

“Daar kan beslis meer gefokus word op die aankeer van verdagtes, deur die misdaad te prioritiseer en meer hulpbronne beskikbaar te stel.

“Dit gebeur heeltemal te min dat dié verdagtes gearresteer en vervolg word. Die jongste (vervolgings)geval (vir die Oos-Kaap) was die Hankey-voorval.”

Vroeër vanjaar het die hooggeregshof in Port Elizabeth skrikwekkende getuienis gehoor van ’n 45-jarige vrou en haar drie minderjarige kinders wat in Maart 2018 op hul plaas as gyselaar gehou is.

Polisiekantore is opdrag gegee om hul sigbaarheid in landelike gemeenskappe te verskerp om te verseker gemeenskappe voel en is veilig.
Weziwe Tikana, LUR vir veiligheid en vervoer in die Oos-Kaap

Sibenzile Simane (32) het die vrou in die boud geskiet en verkrag. Simane het ook die vrou se 12-jarige dogter se klere uitgetrek en gedreig om haar te verkrag. Die ma het begin terugbaklei, waarna sy ten aanskoue van haar dogter verkrag is.

Simane dien lewenslange tronkstraf uit.

“ ’n Tekort aan polisiehulpbronne maak die Addo-gebied besonder kwesbaar. Ons doen ’n beroep op die gemeenskap om hulself te organiseer om voorbereid en paraat te wees,” sê Van Zyl.

Intussen het Stevenson in reaksie op die jongste statistieke uit Tikana se kantoor gesê: “ ’n Aanval op die landbougemeenskap is ’n aanval op die provinsie se voedsel- en werksekerheid. Boonop is dit ’n aanval op die sielkundige welstand van die landelike gemeenskappe wat gedwing word om in vrees te leef weens die tekort aan effektiewe polisiëring.”

Volgens hom moet die polisie die vierde industriële revolusie aangryp deur nuwe tegnologie, soos hommeltuie, te gebruik om patrollies op afgeleë landelike gebiede te hou.

’n Uitgebreide netwerk van kringtelevisiekameras wat motors se registrasienommers kan herken, is nodig vir die landelike gebiede, sodat gemeenskappe kan kennis dra die oomblik wanneer ’n onbekende motor by hul gebied inkom, meen Stevenson.

“Die DA sal aanhou om ’n beroep te doen vir ’n aparte en gespesialiseerde polisie-eenheid, genaamd die nasionale landelike veiligheidseenheid, wat saam met die provinsiale landelike intelligensiesentrums en reaksie-eenhede moet werk,” sê Stevenson.

Volgens Tikana word landelike veiligheidstrategieë toegepas by alle polisiekantore wat die landelike gebiede bedien om polisiëring in die landelike en landbougemeenskappe te verhoog.

“Aktiveringsplanne is saamgestel om voorvalle te hanteer wat spoedige reaksie benodig. Polisiekantore is opdrag gegee om hul sigbaarheid in landelike gemeenskappe te verskerp om te verseker gemeenskappe voel en is veilig,” lui Tikana se antwoord.

Meer oor:  Afriforum  |  Oos-Kaap  |  Statistieke  |  Misdaad  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.