Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KINDERS VERLOOR PA, MA, OUPA én OUMA
4 op plaas afgemaai
Twee gearresteer ná kopskote vir familie
’n Lid van die polisie se forensiese eenheid op die plaas in die Balfour-distrik waar vier familielede vermoor is.

Die boeregemeenskap van Balfour in Mpumalanga steier nadat vier mense van dieselfde familie op ’n plaas buite die dorp vermoor is.

Louis Smuts (48) en sy vrou, Belinda (42), se lyke is Dinsdagoggend op die plaas Modderbult, sowat 20 km buite die dorp, gekry. Louis se ouers, Gert (78) en Paulina (77), is ook vermoor.

Al vier het kopskote gehad.

Hul dood bring die getal mense wat sedert begin vandeesmaand op plase en hoewes landwyd vermoor is op 11 te staan, sê Ian Cameron, Afri­Forum se hoof van gemeenskapsveiligheid. In dié tydperk was daar 30 plaasaanvalle. 

Traumaberaders van Afri­Forum is Dinsdag na Modderbult om Louis en Belinda se geskokte kinders, Marcel (21) en ­Cherize (18), by te staan.

Cherize Smuts (18) saam met haar pa, Louis, wat Maandagaand doodgeskiet is op 'n plaas buite Balfour. Foto: FACEBOOK
Belinda Smuts, wat in die gru-aanval vermoor is, saam met haar dogter, Cherize.

“Hulle word nou gedwing om grootmense te word, want hul familie is uitgewis,” sê Nantes Kelder van AfriForum.

Brig. Leonard Hlathi, polisiewoordvoerder, sê twee mans is in hegtenis geneem, berig Alet Joubert. 

Die Toyota Prado waarin die aanvallers gevlug het, is in Balfour gekry.

Wouter Nel, voorsitter van die Balfour-boerevereniging, sê Belinda se lyk het op ’n rusbank in die woonkamer gelê. Daar was ’n kombers oor haar, maar haar kop het uitgesteek.

Paulina is in die hoofslaapkamer doodgeskiet en sy is ook met ’n kombers toegegooi.

Louis, wat ’n ketelmaker in Balfour was, se bebloede lyk is buite naby die agterdeur gekry. 

“Hulle het ’n swart seil oor hom gegooi,” sê Nel.

Volgens hom is Gert doodgeskiet in ’n woonstel sowat 30 m van die hoofhuis waarin hy en sy vrou gewoon het.

“Ons vermoed dit moes Maandagaand (Maandag) al gebeur het, want Louis se beeste was nie in die kraal toegemaak soos altyd nie.”

Ryno Janse van Rensburg (39)

’n Kollega van Louis wat ­elke oggend saam met hom dorp toe ry, het Dinsdagoggend by die plaashek op hom gewag. “Toe hy nie opdaag nie en ook nie sy selfoon antwoord nie, het die kollega oor die hek geklim en na die huis geloop. Die voordeur was oop en toe kom hy op die mense af,” sê Nel.

Oudkol. Sakkie Louwrens van Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie wat deur oudpolisielede gestig is, sê aanvalle op plase en hoewes het die laaste tyd skielik erg begin toeneem. 

HPG werk landwyd nou saam met die polisie.

Cameron sê dit lyk of die regering “nie bereid is om landsburgers te beskerm nie”.

“Hoeveel mense moet nóg in die land vermoor word voordat daar daadwerklik opgetree word? Gemeenskappe sal hulself in ooreenstemming met die wetsbepalings moet begin beskerm,” sê Cameron. 

In nóg ’n moord in ’n landelike gebied is Ryno Janse van Rensburg (39) Maandagaand op ’n hoewe in die Roodekuil-gebied buite Bela-Bela (Warmbad) vermoor. Hy het die huis op die hoewe opgepas terwyl die eienaars met vakansie is.

Cameron sê Janse van Rensburg is etlike kere met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan. “Hy is vermoedelik al aangeval toe hy uit sy motor geklim het. Dit lyk asof hy gestrompel het tot by die agterdeur, waar hy dood is.” Sy selfoon is gesteel. 

* ’n Egpaar is Dinsdag op ’n plaas in die Koster-distrik in Noordwes aangerand.  

Volgens die polisie het vier rowers ’n boer ná 07:00 oorval toe hy ’n plaashek oopgemaak het, berig Susan Cilliers. Die boer is teruggedwing huis toe waar hy en sy vrou vasgebind is. Drie selfone, drie vuurwapens en geld is geroof. 

 Sondag is die gemeenskap van Tzaneen geruk deur ’n gru-aanval op ’n egpaar op ’n hoewe. Die vrou is glo etlike kere verkrag en haar man erg aangerand. 

13 dae van geweld: Hier is die slagoffers

1 Februarie: Trevor Rees (76) word in die Underberg-gebied in KwaZulu-Natal aangeval en gemartel. Hy is drie dae later dood.

2 Februarie: Nicholaas Harmse sterf in ’n hoewe-aanval in Kameeldrift-Wes buite Pretoria.

2 Februarie: ’n Man sterf in nog ’n hoewe-aanval buite Pretoria.

3 Februarie: Danie Kilian word op Leeupoort buite Bela-Bela (Warmbad) vermoor.

6 Februarie: Pieter Hendrik Pieterse word op ’n plaas buite Lephalale (Ellisras) vermoor. Hy is met ’n moersleutel oor die kop geslaan. ’n Deel van een van sy ore is afgesny. 

8 Februarie: Niels Erichsen word op ’n hoewe buite Rustenburg aangeval. Hy is dae later dood.

13 Februarie: Vier lede van die Smuts-familie word buite Balfour, Mpumalanga, doodgeskiet.

13 Februarie: Ryno Janse van Rensburg word op ’n hoewe buite Bela-Bela vermoor.

Meer oor:  Balfour  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.