Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oppas, maan polisie ná vlaag motorkapings in N-wes

’n Vlaag voorvalle van motorkaping het die afgelope tyd in Noordwes voorgekom waar booswigte niksvermoedende motoriste selfs help bande omruil voordat hulle toeslaan.

In die jongste voorval die afgelope week het motorkapers ’n 46-jarige man op die pad tussen Derby en Rustenburg oorval toe hulle padaanwysings gevra het.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die slagoffer het langs die pad stilgehou toe die natuur roep.

“Nadat die kapers aanwysings gevra het, het hulle die man aangerand, hom agter in sy motor gedwing en met hom weggery. Die slagoffer is glo naby Randfontein (aan die Wes-Rand) afgelaai, waarna die kapers met sy motor vort is.”

Volgens Tselanyane was daar in Augustus twee soortgelyke voorvalle elders in die provinsie.

Die polisie vra mense nou om nie sommer langs die pad stil te hou nie en verdagte persone of voertuie by die naaste polisiekantoor aan te meld.

“Kapers in ’n Ford Bantam-bakkie het ’n 29-jarige man in die een voorval by Sun City laat stilhou, ook onder die voorwendsel om aanwysings te vra. Toe rig hulle ’n wapen op hom en vra sy motorsleutels. Hulle het met die slagoffers se silwer Nissan Navara weggery.”

In die tweede onverwante voorval is ’n 27-jarige vrou geklap en van haar selfoon beroof voordat motorkapers met haar Volkswagen Polo weggery het.

“Die vrou het tussen Letlhabile en Brits gery toe sy stilgehou het om ’n pap band om te ruil,” sê Tselanyane. “Twee mans het in hul voertuig by haar stilgehou en haar gehelp voordat hulle haar voertuig gekaap het.”

Volgens Tselanyane was daar veral nog voorvalle in die Mahikeng-omgewing waar niksvermoedende motoriste voorgekeer, beroof en hul voertuig gekaap is deur mense wat hulle as verkeers- of polisiebeamptes voordoen.

Die polisie vra mense nou om nie sommer langs die pad stil te hou nie en verdagte persone of voertuie by die naaste polisiekantoor aan te meld.

Tselanyane sê motoriste moet veral op die volgende let:

* Moet nooit rylopers of vreemdelinge oplaai nie.

* Moenie langs die pad stilhou, tensy dit ’n noodgeval is nie.

* Hou jou voertuig in stand en versien die bande gereeld, dan is die kans skraler dat jy langs die pad gestrand sal raak.

* Beplan jou roete vooraf, lig mense daaroor in en oor hoe laat jy verwag om jou bestemming te bereik.

* Hou jou truspieëltjie dop om te sien wanneer iemand jou agtervolg.

* Voorkom dat jou aandag afgelei word, onder meer deur nie op jou selfoon te praat terwyl jy bestuur nie.

* Indien jy vermoed jy word agtervolg, ry na die naaste polisiekantoor of besige openbare gebied.

* Verminder spoed wanneer jy ’n rooi verkeerslig veral snags nader sodat dit groen word wanneer jy dit bereik en jy nie hoef te stop nie.

* Probeer om op ’n sentrale, goed verligte plek te parkeer waar daar verkieslik wagte aan diens is.

* Stop ’n halwe voertuiglengte agter ander voertuie sodat jy in ’n noodgeval maklik kan wegkom.

* Vermy dit om laatnag of in die vroeë oggendure wanneer paaie stil is deur onbekende gebiede te ry.

* Probeer sover moontlik om nooit alleen of in die donker te ry nie.

* Verander die roetes na jou bekende bestemmings gereeld.

* Kapers se modus operandi is soms om ’n klein ongeluk te veroorsaak, soos om van agter jou voertuig te stamp. Indien jy ongemaklik voel om uit te klim, wys vir die persoon om jou na die naaste polisiekantoor of ’n besige openbare plek te volg.

Meer oor:  Polisie  |  Kapt. Sam Tselanyane  |  Noorwes  |  Motorkapings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.