Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oproer ná Upington-polisieman glo in slaap vermoor is
Inwoners van Keimoes in die Noord-Kaap het Woensdagoggend ’n motor, wat na bewering behoort aan die vermeende moordenaar van Stefano Visagie, ’n polisiebeampte, aan die brand gesteek. Foto: Facebook

Inwoners van twee Noord-Kaapse dorpe het Woensdag opgeruk en na bewering buitelanders in hul onderskeie gemeenskappe aangeval nadat ’n polisieman in Keimoes in sy slaap doodgesteek is.

Stefano Visagie (28), ’n lid van die polisie se eenheid vir openbare orde in Upington, is Woensdagoggend vroeg in sy slaap vermoor. Foto: Facebook

Konst. Stefano Visagie (28), ’n lid van die polisie se eenheid vir openbare orde in Upington, is Woensdagoggend dood in ’n vriend se huis in Lennertville, Keimoes, gevind.

Volgens brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder, is die konstabel verskeie kere in sy bolyf gesteek.

Naidoo sê die beampte het die vorige dag by ’n vriend op Keimoes gekuier en daar oorgeslaap. Hy is die volgende oggend met steekwonde aangetref.

Volgens hom is die motief vir die moord nog onbekend.

Nadat die moord op Visagie bekend geword en deur die dorp versprei het, het inwoners van Rosedale in Upington en Keimoes in opstand gekom en die vermeende moordenaar, wat hulle as ’n Nigeriese burger geïdentifiseer het, gesoek.

Ontstoke inwoners het glo die man se huurhuis gevandaliseer en sy motor uitgebrand. Die polisie moes ander buitelanders, wie se winkels ook aangeval is, na veiligheid bring.

Naidoo sê hy is nie bewus van die onluste nie en “as dit gebeur het, kan ek nie sê dit hou verband met die voorval nie”.

Hy het ook bewerings ontken dat die vermeende moordenaar ’n ander gemeenskapslid gesteek het en die verdagte later op Postmasburg aangekeer is.

Inwoners van Keimoes in die Noord-Kaap het Woensdagoggend in opstand gekom nadat ’n polisiebeampte glo deur ’n buitelander doodgesteek is. Foto: Facebook

Armando Heinrich Visagie het op Facebook geskryf: “Toe ek die nuus vanoggend kry, was my hart gebreek, neef. Wetteloosheid is aan die orde van die dag. Buitelanders het meer regte as burgers in die land.

“Hulle is nie bang vir die polisie nie. En hulle is gaste hier. Genoeg is genoeg. Mag jou siel RIV, Stefano.”

Andruska Maricia-Roshwill van Wyk skryf: “Dit was ’n lang dag sonder jou #Steff. Ons het nooit vir jou gewys hoe baie ons jou in ons lewe waardeer nie, ons kom ’n lang pad. Ons sal vir jou sê wanneer ons jou weer sien.

“Jy kon ’n glimlag op enigeen se gesig gesit het met die grappe wat jy gemaak het. Ons was nie familie nie, maar ons kon saam wees soos familie, ons vriendskap het ’n band gevorm en daardie band sal nooit breek nie.

“Laat die arms van die Here ons vanoggend lei en laat ons vasklou aan die herinneringe waarmee jy ons gelos het.”

’n Saak van moord word ondersoek.

Meer oor:  Upington  |  Onluste
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.