Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Optrede nou nodig oor plaasmoorde, Cyril,’ sê landbou

Die georganiseerde landbou het Donderdag pres. Cyril Ramaphosa se uitlating dat hy “diep bekommerd is” oor al die moorde in die land – insluitende plaasmoorde – verwelkom, maar terselfdertyd gewaarsku optrede is nou nodig.

Ramaphosa het Woensdagaand tydens sy tweede imbizo met Suid-Afrikaners gesê hy het die kwessie van plaasmoorde vroeër in die dag met die polisie bespreek en opdrag gegee dat daar voortaan ook hierop gefokus moet word.

Die regering word al lank daarvan beskuldig dat hy nie genoeg doen om plaasaanvalle en -moorde te voorkom nie.

Ramaphosa het twee jaar gelede nog plaasmoorde ontken toe hy in New York daaroor uitgevra is. Hy het dit wel ’n jaar gelede in die parlement veroordeel.

Ons kan nie so voortgaan nie. Dié aanvalle kan katastrofiese gevolge vir Suid-Afrikaanse landbou en voedselsekerheid in die land inhou.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se veiligheidskomitee, sê Agri SA verwelkom die president se uitlating. Hy glo dit volg op volgehoue druk uit verskeie oorde op Ramaphosa en sy regering om iets aan die situasie te doen.

“Ons kan nie so voortgaan nie. Dié aanvalle kan katastrofiese gevolge vir Suid-Afrikaanse landbou en voedselsekerheid in die land inhou.”

Esterhuyse sê Agri SA beplan om binnekort met Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, oor die probleem van plaasaanvalle te vergader.

“Die polisie se landelike veiligheidstrategie moet nou tot sy volle potensiaal in werking gestel word.”

Esterhuyse het boere gemaan om steeds baie versigtig en waaksaam te wees.

Geen oplossing is moontlik voordat die regering nie die omvang van die probleem erken nie.

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, het ook die president se uitlatings verwelkom.

“Geen oplossing is moontlik voordat die regering nie die omvang van die probleem erken nie,” sê De Jager, wat ook president van die Wêreldlandbou-organisasie is.

“Dit is ’n baie goeie begin, veral ná sy uitsprake twee jaar gelede in New York toe hy ontken het daar is ’n probleem met plaasmoorde en -aanvalle in Suid-Afrika. Noudat hy dit erken het, moet ons dit met spesifieke aksies opvolg.”

Volgens De Jager is daar ’n hele paar politieke partye en burgerlike organisasies wat al begin werk het aan ’n strategie vir landelike veiligheid om die getalle en die aard en omvang van plaasaanvalle en -moorde te laat daal.

“Ná die erkenning, wat altyd die eerste stap is, moet die volgende stap wees dat ’n behoorlike wetenskaplike kommissie van ondersoek na die oorsprong van hierdie soort van geweld aangestel word. So ’n kommissie sal moet bepaal wat die dryfvere agter die aanvalle is en hoekom dit gebeur,” sê hy.

“Dan is dit ook baie nodig dat ’n multidepartementele taakgroep aangewys word. Ons sal ook baie graag wil sien dat die polisie en veral die minister van polisie hierdie uitlating van die president met meer konkrete planne opvolg.”

‘Woorde wek, voorbeelde trek’

Dié spreekwoord, sê Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, sal dalk van toepassing gemaak moet word op die uitlatings van Ramaphosa dat hy baie bekommerd is oor plaasmoorde.

Hy sê die regering het die verantwoordelikheid om die nodige middele daar te stel om misdaad in al sy vorme te bekamp.

“Dit begin alles by die politieke wil wat duidelik in die praktyk moet wys dat alle misdaad ernstig gepak word. Ongelukkig word weinig tekens daarvan in die praktyk sedert 1994 bespeur,” sê Van Zyl.

“Die geweld duur voort. Solank korrupsie, byvoorbeeld, gekoester word en daar nie daadwerklik teen die skuldiges opgetree word nie, skep dit klaar ’n verkeerde beeld. Die gevolg is dat die regering nie ernstig opgeneem word oor misdaad in die algemeen nie, maar ook nie oor plaasmoorde in die besonder nie.”

. . . regering nie ernstig opgeneem word oor misdaad in die algemeen nie, maar ook nie oor plaasmoorde in die besonder nie.

Meer oor:  Saai  |  Tlu Sa  |  Theo De Jager  |  Agri Sa  |  Tommie Esterhuyse  |  Plaasmoorde  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.