Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Orania skerp proses op ná Poppie se dood

Die owerhede in Orania het reeds met die Noord-Kaapse owerhede ooreengekom om nuwe werkwyses in te stel om toekomstige voorvalle van kindermishandeling en maatskaplike probleme te voorkom.

Dit volg op regter Bert Bam se uitspraak Woensdag in die Poppie van der Merwe-moordverhoor waarin hy sy skok uitgespreek het oor hoe die situasie in Orania, toe dit duidelik geword het dat Poppie en ’n seun mishandel word, hanteer is.

Poppie van der Merwe. Foto: Verskaf

Bam het Kobus en Louisa Koekemoer, Poppie se stiefpa en ma, skuldig bevind aan Poppie se moord en twee aanklagte van kindermishandeling.

Die driejarige Poppie en ’n vyfjarige seun is vir ’n tydperk van agt maande aangerand en mishandel.

Die regter was krities oor diegene wat Poppie gefaal het.

“Ten spyte van verskeie rapporterings van aanranding en mishandeling op die kinders sedert die begin van 2016 het die situasie nie die nodige aandag gekry nie. Ek is verbaas dat dokters, onderwysers, dominees, maatskaplike werkers om onbekende redes gefaal het om stappe te doen om die kinders te beskerm en nou net die blaam op mekaar skuif.”

Die Koekemoers het eers in Orania gebly waar die mishandeling die eerste keer opgemerk is voordat die gesin na Brits getrek het waar Poppie dood is.

Gawie Snyman, inligting- en skakelbeampte van die Orania Dorpsraad, het Donderdag in ’n verklaring gesê hulle is besorg oor die regter se sydelingse opmerkings dat Orania meer kon gedoen het om Poppie te beskerm.

“Die Orania Maatskaplike Raad (OMR) het ná die voorval onder meer met die landdros van Hopetown gepraat oor voorstelle om OMR se bestaande prosesse en aksies te verskerp en te verbeter. Ons wil enige toekomstige soortgelyke gevalle voorkom. Prosesse wat voorgestel is, is reeds in werking gestel.

Kobus en Louisa Koekemoer het vroeër in Orania gewoon waar die mishandeling van hul kinders vir die eerste keer opgemerk is. Foto: Enid Johnstone

“Omvattende berading en moniteringsprosesse is in Orania met die gesin gedoen. Ons het na buiteinstansies vir bystand uitgereik nadat die beskuldigdes nie gehoor aan beradingsvoorskrifte wou gee nie. Die OMR het dringende versoeke aan die departement van maatskaplike ontwikkeling gerig om Poppie van haar ouers te verwyder.

“Ongelukkig het die beskuldigdes Orania oornag en sonder waarskuwing verlaat voordat die kinders weggeneem kon word.

“Talle individue en instellings op Orania is op ’n diep en persoonlike vlak deur haar moord geraak.

“Dit is vir ons een van die grootste persoonlike tragedies dat ’n pragtige kind so wreed vermoor is.

“Kinders is vir Orania baie kosbaar. Ons instellings doen alles in hulle vermoë om ’n veilige omgewing vir kinders te skep.”

Meer oor:  Orania  |  Poppie Van Der Merwe  |  Kinderbeskerming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.