Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Organisasie bly oor wet wat verjaring van seksmisdade stop

Slegs deur wetgewing kan ’n presedent geskep word dat gruwelmisdade – soos molestering en ander seksmisdrywe – nét soos verkragting nie meer in Suid-Afrika geduld sal word nie.

So het Daleen Gouws, woordvoerder van die burgerregte-organisasie Action Society, Woensdag gesê toe dié organisasie die aankondiging verwelkom het dat pres. Cyril Ramaphosa die Wysigingswet op die Verjaring van Siviele en Strafregtelike Aangeleenthede (Seksuele Misdrywe) onderteken het.

“Die hersiene wetsontwerp bring mee dat die 20 jaar- periode om ’n siviele eis of strafregtelike vervolging teen ’n seksuele oortreding in te stel afgeskaf is.

“Slagoffers wat seksueel misbruik of verkrag is, kan die misdaad voortaan op enige tydstip aanmeld, ongeag wanneer dit plaasgevind het,” het Gouws oor dié mylpaal gesê.

Dikwels neem dit hierdie getraumatiseerde slagoffers jare om die moed bymekaar te skraap om ’n saak aanhangig te maak.

Action Society se reaksie kom nadat die parlement Maandag aangekondig het dat Ramaphosa die wysigingswet op 20 Desember verlede jaar onderteken of bekragtig het.

Dié bekragtiging is op 23 Desember verlede jaar in die Staatskoerant gepubliseer.

Dié wet kom nadat die konstitusionele hof op 14 Junie 2018 in die saak van Levenstein en ander teen die boedel van die oorlede Sidney Lewis Frankel verklaar het dat art. 18 van die Strafproseswet van 1977 strydig met die Grondwet is.

Dit omdat dit die reg om alle seksuele misdrywe, buiten verkragting of gedwonge verkragtig, ná 20 jaar te vervolg, verbied het.

Vroeër is berig oor agt klaers in die Levenstein-aangeleentheid wat gesê het dat Frankel, in lewe ’n Johannesburgse miljardêr, hulle as kinders seksueel aangerand het.

Hulle het in 2015 gevra dat die bepaling van die betrokke wet, wat die strafregtelike of siviele vervolging van oortreders van sulke oortredings ná 20 jaar laat verjaar, ongrondwetlik verklaar word.

Die hooggeregshof in Johannesburg het die aansoek destyds toegestaan, waarna die konstitusionele hof dit bekragtig het.

Die konstitusionele hof het die parlement 24 maande gegee om die betrokke wetgewing te wysig, wat toe gedoen is.

Die wysiging beteken nou dat alle seksmisdrywe, of dit onder gemene of statutêre reg gepleeg is, nou net soos moord nooit sal verval of verjaar nie.

Gouws het verder in ’n verklaring gesê dat Action Society die regering al lank gesoebat het om hierdie wetgewing te wysig omdat dit “waarlik ’n effek op die bekamping van geweldsmisdade teen vroue en kinders kan hê”.

“Seksuele sake is ingewikkeld. Daarom is verkragting byvoorbeeld een van die algemeenste misdade wat Suid-Afrikaners versuim om aan te meld.

“Dikwels neem dit hierdie getraumatiseerde slagoffers jare om die moed bymekaar te skraap om ’n saak aanhangig te maak. Ons is dankbaar dat hierdie wysiging lig op die probleem werp en slagoffers hopelik sal aanmoedig om die stilte te verbreek.”

Volgens Gouws veg Action Society ook dat die regering gespesialiseerde howe vir seksuele misdade moet open, veral omdat meer as 53 000 seksuele misdade volgens die misdaadstatistieke verlede jaar in Suid-Afrika aangemeld is.

Action Society vra ook dat strawwer vonnisse van 25 jaar en meer, met geen opsie vir parool, vir die skuldiges van seksuele misdade ingestel word.

Volgens Gouws het hul organisasie hulle verlede jaar ook daarvoor beywer dat die name van alle seksoortreders by die Nasionale Register vir Seksoortreders gevoeg word en dat hierdie databank aan alle landsburgers beskikbaar gestel word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.