Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ottosdal: Biblioteek ook in puin ná oproer

Dis algehele anargie en heeltemal onlogies.

Die moderne dorpsbiblioteek by Ottosdal voordat betogers dit geplunder, gevandaliseer en aan die brand gesteek het. Foto: Facebook

So het Linda Taljaard, DA-raadslid in Ottosdal, Noordwes, die vernietiging van die nuwe, moderne Letsopa-biblioteek digby dié dorp beskryf.

Die afbrand van die dorpsbiblioteek einde verlede week is die nuutste vergrype in die gebied waar munisipale dienste die afgelope weke in duie gestort het, onder meer omdat munisipale werkers gestaak het toe hul Junie-salaris twee weke laat inbetaal is.

Die biblioteek is langs die Letsopa-township, maar bedien ook Ottosdal. “Die oproeriges het die binnekant van die biblioteek geplunder en gevandaliseer, voordat hulle dit aan die brand gesteek het,” het ’n ontstelde Taljaard Maandag gesê.

“Dit was ’n pragtige plek en is maar ’n paar jaar gelede gebou. Die hele gemeenskap, van die townshipkinders tot die inwoners, het die biblioteek gereeld gebruik. Daar was ’n pragtige kinderafdeling.”

Vyf mense, wat vermoedelik verantwoordelik is vir die brand, het Maandag op aanklagte van brandstigting en openbare geweld in die landdroshof in Ottosdal verskyn.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die vyf bly in aanhouding tot Dinsdag wanneer hulle aansoek om borgtog sal doen.

Nege ander mense het reeds verlede week in die plaaslike landdroshof verskyn nadat oproeriges ook die munisipale gebou, wat onder meer die brandweer- en lisensiekantoor huisves, Woensdag aan die brand gesteek het.

Hulle sal nou saam met die vyf nuwe verdagtes aansoek om borgtog doen, het Tselanyane gesê.

Die nuwe, moderne dorpsbiblioteek by Ottosdal wat betogers aan die brand gesteek het. Foto: Facebook

’n Trekker en vullisverwyderingsvragmotor is ook aan die brand gesteek terwyl die munisipale gebou in ligte laaie was.

Betogers het verlede Woensdag ook paaie in die gebied versper, skole en ondernemings is gesluit en inwoners het self paaie in Ottosdal gepatrolleer en bewaak om verdere vandalisme te voorkom.

Die betogers is blykbaar ontevrede oor dienslewering en ’n gebrek aan werk in die bankrot Tswaing-munisipaliteit wat die Ottosdal-, Sannieshof- en Delareyville-omgewing bedien.

So het betogers die moderne biblioteek by Ottosdal vernietig. Foto: Facebook

Onbevestigde gerugte doen die ronde dat munisipale werkers wie se Junie-salaris laat inbetaal is, moontlik ook die oproer aangehits het.

Kagiso Mangwejane, DA-koukusvoorsitter in Tswaing, het Maandag gesê werkers en raadslede is wel Vrydag betaal. “Die werkers staak egter steeds omdat die munisipaliteit agterstallig is met hul pensioenbydraes.”

Dit beteken dienste word steeds nie gelewer nie, wat onder meer veroorsaak dat onbehandelde rioolvuil in Sannieshof se strate afloop omdat munisipale vragmotors nie septiese tenks leegsuig nie.

Die munisipale kantoor in Delareyville is ook geplunder en gevandaliseer.

Die salarisse is betaal nadat die provinsiale regering ingegryp het. Dis blykbaar onder meer betaal uit geld wat die departement van openbare werke aan Tswaing geskuld het.

Dineo Thapelo, woordvoerder van Noordwes se departement van plaaslike regering, het gesê die provinsie gaan nou so gou moontlik ’n administrateur en ondersteunende span na Tswaing stuur om die benarde situasie by die munisipaliteit reg te ruk.

Tswaing is in Mei onder administrasie geplaas. Die provinsiale regering het juis besluit om dit te doen weens die munisipaliteit se swak geldsake en die ineenstorting van dienste en instandhoudingswerk.

Dit lyk asof ’n orkaan of aardbewing die Letsopa-biblioteek by Ottosdal getref het, maar dis eintlik betogers wat die luukse gebou aan die brand gesteek het. Foto: Facebook
So het betogers die nuwe, moderne biblioteek by Ottosdal vernietig. Foto: Facebook
Van hierdie biblioteek by Ottosdal is nou net puin oor nadat betogers dit geplunder, gevandaliseer en aan die brand gesteek het. Foto: Facebook

Meer oor:  Ottosdal  |  Noordwes  |  Biblioteek  |  Brand  |  Anargie  |  Betoging
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.