Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oud-dominee nou ‘helder van verstand’ ná aanval

Dit gaan beter met ds. Nico Rautenbach, die 81-jarige afgetrede predikant wat op Sondag 8 Julie deur drie mans in sy huis in Garsfontein, Pretoria, aangeval is.

Hy sterk sedertdien in die waakeenheid van die Netcare Pretoria-Oos-hospitaal aan en word Dinsdag na ’n algemene saal oorgeplaas.

Ds. Nico Rautenbach (81) ná die aanval op Sondag 8 Julie.Foto: Verskaf

Rautenbach se neus is gebreek, hy het bloeding op die brein en harsingskudding opgedoen, sy lyf is vol kneusplekke en sy hande is stukkend geslaan soos hy teruggeveg het.

Die bloeding op sy brein het reeds ’n bietjie opgeklaar.

Hy is van Maandag af glo helder van verstand, maar is nog te swak om te loop.

Rautenbach was die oggend van die voorval in die solder besig om vir sy preek voor te berei toe hy omstreeks 05:30 ’n geluid in die huis gehoor het, sê sy vrou, Elise.

Hoewel hy afgetree is, preek hy nog dan en wan by die APK Wesmoot-gemeente in Pretoria-Wes.

Hy het gaan ondersoek instel, maar niks verdags opgemerk nie. Hy het besluit om die vullissak uit te neem en sien toe dat die buitehekkie oop is.

“Hy weet hy het dit die vorige aand toegemaak en loop toe na die hekkie om dit toe te maak,” sê Elise.

Rautenbach het opgemerk dat die slot op die grond lê. Twee mans het anderkant die heining gestaan en vir hom gesê om stil te staan.

Nico en Elise Rautenbach.

Die egpaar woon in ’n kompleks wat aan ’n spruit grens.

“Hy wou nog die hekkie toemaak toe die drie mans skielik op hom is en hom begin slaan. Hy het verbete teruggeveg,” sê Elise.

“Een van die mans het ’n vuurwapen op hom gerig en gesê: ‘We’re going to shoot you.’ Toe my man die rower slaan, het ’n skoot afgegaan. Hy het hom weer geslaan en toe val die vuurwapen uit sy hand.

“My man het erg geskree, want dit was sy grootste vrees dat die rowers by my uitkom.”

Die rowers het Elise, wat in die huis was, se trouring van haar vinger afgehaal en die televisiestel van die muur afgeruk.

Sy het hulle gevra om haar nie seer te maak nie en gesê dat sy vir hulle sal gee wat hulle wil hê.

“Hulle het ook ’n vuurwapen op my gerig en my een keer deur die gesig geslaan, maar my man is aanhoudend in sy gesig en op sy lyf geskop en geslaan,” sê sy.

Toe ek my oë oopmaak, was hulle weg. Die Here het ingegryp.
Elise Rautenbach

Elise het in ’n stadium haar oë toegemaak en gebid: “Here, help my.”

“Toe ek my oë oopmaak, was hulle weg. Die Here het ingegryp,” sê Elise.

Die rowers het met die televisiestel en ’n skootrekenaar weggehardloop.

Die egpaar se dogter en skoonseun, wat langs hulle woon, het die paniekknoppie gedruk en die polisie en ’n veiligheidsmaatskappy is ontbied.

“Ek was so verbouereerd, maar dit gaan nou goed met my. Ek het nog niemand gaan sien nie. Dit was geweldig traumaties.”

Die polisie kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Meer oor:  Garsfontein  |  Aangeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.