Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Kapers skiet vrou voor haar man by winkelsentrum dood

'n Vrou van Honeydew aan die Wes-Rand is Vrydagaand voor haar man by 'n winkelsentrum naby haar huis in 'n mislukte motorkaping doodgeskiet. Dit was net enkele ure nadat hulle teruggekeer het van Stellenbosch waar hulle hul seun by die universiteit gaan afsien het. 

Daleen van Staden (49)

Daleen van Staden (49) en haar man, Herman, wat in die Eagle Canyon Estate in Honeydew woon, is Vrydagaand by die Eagle’s Landing-winkelsentrum in Randparkrif deur drie kapers oorval en sy is doodgeskiet, sê ds. Tony Simpson, Daleen se pa.

“Die twee het iets gaan eet nadat hulle vroeër die dag van die Kaap af teruggekeer het. Hulle het net in hul motor geklim toe die kapers die deure oopruk en die voertuig eis. Daar was twee kapers aan die bestuurderskant by Herman en een aan die passasierskant by Daleen,” sê Simpson, ’n afgetrede leraar van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHK).

Hy sê Herman het onmiddellik uit die Toyota Land Cruiser geklim en vir die kapers gesê om die motor te vat.

“Ek is nie seker of Daleen uit die motor gepluk is en of sy uitgeklim het nie, maar sy was buite die kar met haar hande in die lug toe sy geskiet is. Die kapers het toe in ’n wit BMW gespring en weggejaag.”

Herman het onmiddellik vir Simpson gebel, waarna hy hom na die toneel gehaas het.

Lede van die Honeydew-gemeenskapspolisiëringsforums was Vrydagaand op die toneel by die Eagle’s Landing-winkelsentrum waar Daleen van Staden doodgeskiet is. Foto: Facebook, Honeydew Sector 3 CPF

“Ons kan net dankbaar wees Daleen is nie ontvoer nie en dat sy nie gely het nie. Sy is onmiddellik van ons weggeneem,” sê Simpson.

Brig. Mathapelo Peters, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig. Volgens haar word ’n saak van moord en poging tot kaping deur die polisie ondersoek. “Die verdagtes is steeds soek en die polisie vra dat enigeen met inligting oor die voorval hul naaste polisiekantoor kontak.”

Daleen word deur onder andere haar man en twee kinders oorleef. ’n Troosdiens word Saterdag om 10:00 uit die NHK in Weltevredenpark vir haar gehou.

Meer oor:  Johannesburg  |  Moord  |  Polisie  |  Misdaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.