Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oud-nuusman glo voor moord dopgehou en gedreig

Sowat ’n maand voordat hy buite sy huis naby Calitzdorp vermoor is, het die 66-jarige Lourens de Villiers, ’n oud-nuusregisseur van die SAUK, ’n verbygaande motoris gevra om hulp by die polisie te gaan kry.

Hy het gesê dat ’n groep mense hom dophou en dreig. Hy was te bang om sy huis te verlaat.

Die polisie het verlede Dinsdagmiddag buite sy huis op De Villiers se lyk afgekom.

Lourens de Villiers Foto: Facebook

’n Dertigjarige man en twee seuns van onderskeidelik 14 en 15 jaar oud is die naweek in verband met die moord in hegtenis geneem.

De Villiers se voertuig, wat weg was toe die polisie op sy lyk afgekom het, is later verlate by Matjiesfontein gevind.

Die polisie is na De Villiers se huis nadat sy familie gevra het dat hulle ondersoek instel nadat hulle hom die naweek nie in die hande kon kry nie.

De Villiers het die Visarend-eko­kamp op die Groenkloofpad buite Calitzdorp bestuur en het alleen gewoon. Daar is nie goeie selfoonontvangs in die kamp nie en hy en sy familie het gewoonlik per WhatsApp gekommunikeer.

Volgens ’n inwoner van Calitzdorp het hy en ’n vriend op 16 Maart op die Groenkloofpad gery toe De Villiers hulle voorgekeer het.

“Hy het ons gevra om by die polisie stil te hou. Hy het gesê ’n groep mense hou hom dop, vloek op hom en dreig hom. Hy was basies ’n gevangene in sy eie huis omdat hy bang was iets gebeur.”

Die man het gesê hulle is inderdaad daarna na die polisie en De Villiers het die polisie blykbaar ook drie dae tevore gekontak.

By die polisiekantoor het die polisie nie van die klag geweet nie. Ook nie dat iemand anders vroeër daar was nie.

“Ons was baie geskok toe ons besef dit is dieselfde man wat ons die dag voorgekeer het,” sê die inwoner.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het gesê die polisie volstaan met sy verklaring oor die moord.

Volgens die verklaring het ’n 14-jarige seun hom Saterdag aan die polisie oorgegee. ’n Man is by ’n huis in Bergsig in hegtenis geneem waar gesteelde items soos die bakkie se sleutels en ’n musieksentrum gevind is. Sondag is ’n 15-jarige seun ook in hegtenis geneem.

Die drie het Maandag in die landdroshof in Calitzdorp op ’n aanklag van moord verskyn. Nog aanklagte kan later bygevoeg word.

’n Gedenkdiens vir De Villiers word op 2 Mei om 11:30 in die NG Moedergemeente in Robertson gehou.

Oor die inhegtenisnemings sê sy familie hulle is dankbaar teenoor die polisie vir hul harde werk. “Ten minste is daar ’n kans dat iemand anders nie ook skade aangedoen sal word nie.”

Meer oor:  Lourens De Villiers  |  Gedreig  |  Nuusman  |  Dopgehou  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.