Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oudkolonel glo vrygelaat wat nie eens derde van tronkstraf uitdien

Is ’n voormalige polisiekolonel vrygelaat wat vuurwapens in polisiebesit gesteel en aan onder meer Kaapse bendes verkoop het nadat hy minder as ’n derde van sy tronkstraf uitgedien het?

Christiaan Prinsloo (59) van Vereeniging is volgens betroubare bronne glo reeds in April uit ’n Vrystaatse gevangenis, waar hy laaste aangehou is, vrygelaat.

Sou dit die geval wees, beteken dit dat hy slegs drie jaar en tien maande van sy tronkstraf van 18 jaar uitgedien het.

Foto’s van ’n man wat soos die veroordeelde voormalige kol. Christiaan Prinsloo lyk, is deur ’n bron aan Netwerk24 verskaf. Dit is onlangs in ’n parkeerterrein in Vereeniging geneem.

Woordvoerders van die departement van korrektiewe dienste en die departement van justisie weier egter om dit te bevestig of te ontken.

Prinsloo is op 21 Junie 2016 18 jaar tronkstraf opgelê nadat hy in die streekhof in Bellville skuld beken het op 11 aanklagte van onder meer rampokkery, korrupsie, geldwassery, diefstal, die onwettige besit van vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die verkoop van ammunisie, vuurwapens en onderdele aan mense wat dit nie mag besit nie. Prinsloo het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan.

Bronne het Vrydag twee foto’s aan Netwerk24 gestuur van ’n man wat soos Prinsloo lyk wat in Vereeniging, Gauteng, geneem is.

In die een foto loop die man in ’n parkeerterrein, geklee in ’n kakiehemp en ’n sweetpakbroek. In die tweede foto, wat op 19 September geneem is, is hy in ’n winkel. Hy staan by die kassiere waar hy vir ’n bottel tweeliter-melk betaal.

Die man in die foto’s is nie so maer soos Prinsloo was ten tyde van die hofsaak nie.

Prinsloo is ná sy vonnisoplegging aanvanklik by die Obiqua-gevangenis buite Tulbagh in die Boland aangehou.

Foto’s van ’n man wat soos die veroordeelde voormalige kol. Christiaan Prinsloo lyk, is deur ’n bron aan Netwerk24 verskaf. Dit is onlangs in ’n winkel in Vereeniging geneem.

Bronne beweer hy is verlede jaar sonder enige kennisgewing aan tronkowerhede onder groot geheimhouding en met baie polisiebegeleiding by die tronk gaan haal. Niemand kon sê waarheen hy toe geneem is nie.

Ander bronne het Vrydag gesê dat hy vir ’n tydperk, nadat hy uit die Wes-Kaap weggeneem is, in die Heidelberg-gevangenis in Gauteng aangehou is.

Hy is daarna glo na ’n gevangenis in die Vrystaat oorgeplaas voordat hy vrygelaat is.

Verskeie navrae is sedert September na die departement van korrektiewe dienste (DKD) en die departement van justisie gestuur.

Logan Maistry, ’n DKD-woordvoerder, het Vrydag alle navrae na Delekile Klaas, die DKD se areakommissaris in die Wes-Kaap, verwys.

Klaas wou nie sê of Prinsloo op parool vrygelaat is, of daar ander reëlings vir sy vrylating geld of hoekom hy glo in Vereeniging rondloop nie.

Maar volgens Klaas is hy (Prinsloo) nog wel op die DKD se stelsels en is hy nog ’n oortreder. Hy het gesê dat hy weens veiligheidsrisiko’s nie vrae gaan beantwoord nie. “Almal soek die man binne ons tronke en buite die tronke.”

Navrae is ook na Ronald Lamola, minister van justisie, se kantoor gestuur. Sy woordvoerder, Chrispin Phiri, het gesê die ministerie lewer nie kommentaar oor die opsluiting van individuele gevangenes nie. “Ons sal slegs kommentaar lewer op sekere bepalings wat ’n besluit of optrede van die minister regverdig.”

Luidens hofrekords het Prinsloo en ’n kollega, wat saam met hom by die polisiestore gewerk het, sedert 2007 meer as 2 000 vuurwapens in polisiebesit gesteel en aan onder meer Wes-Kaapse bendes verkoop.

Teen 2016 was van die vuurwapens gekoppel aan die dood van 89 kinders en is ’n verdere 170 kinders gewond.

Een van die gesteelde vuurwapens wat aan bendes verkoop is, is ook ballisties verbind met die dood van 15 mense in die Wes-Kaap, waaronder die ma van ’n Kaapse speurder en die seun van ’n afgetrede polisiegeneraal.

Prinsloo het in sy pleitooreenkoms gesê hy en ’n kollega het in 2006 besef dat hulle op ’n goudmyn sit. Alle verbeurde vuurwapens wat vernietig moes word, is onder meer daar geberg.

Hulle het van 2007 tot Januarie 2015, toe hy in hegtenis geneem is, vuurwapens aan bendes in die Wes-Kaap en elders in die land verkoop.

Christiaan Prinsloo met sy verhoor in die streekhof in Bellville. Foto: Jonathan Lestrade/Die Son

Hy het erken dat hulle nie daarmee sou ophou as hulle nie gevang is nie.

Die hof het toe ook gehoor dat die staat op sowat R1,2 miljoen van Prinsloo beslag gelê het.

Prinsloo het gesê dat hy sowat R2 miljoen uit die verkope verdien het.

Intussen beveg Irshaad Laher, die beweerde middelman, en Alan Raves, ’n vuurwapenhandelaar van Vereeniging, steeds strafregtelike aanklagte in die hof.

Raves se regsverteenwoordiger het aan die einde van Augustus met hul laaste verskyning in die hooggeregshof in Kaapstad aan die hof gesê dat hulle ’n aansoek by die hooggeregshof in Johannesburg ingedien het waarin hy vra dat sy vervolging permanent gestaak word, of dat sy saak van dié van Laher geskei word en dit in Gauteng aangehoor word.

Sy regsverteenwoordiger het gesê hulle wag nog op ’n datum vir dié aansoek van Raves om aangehoor te word.

Laher en Raves staan tereg op aanklagte van diefstal, korrupsie, die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie en rampokkery. Hulle verskyn weer op Vrydag 12 Februarie 2021 in die hof.

Meer oor:  Christiaan Prinsloo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.