Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oudpolisiebaas kry tugverhoor nie gestop

Die geskorste polisiebaas lt.genl. Khomotso Phahlane wou keer dat sy interne tugverhoor aangaan, maar het nou hierin misluk.

Phahlane, wat waargeneem het as nasionale polisiekommissaris toe hy geskors is, het in ’n aansoek in die hooggeregshof in Pretoria gesê net die land se president kan hom dissiplineer en nie die polisie nie.

Lt.genl. Khomotso Phahlane

Hy het die tugprosedure, wat in 2018 begin het, aan verskeie fronte aangeval en gevra dat die hof aspekte daarvan hersien.

Regter Annali Basson het Phahlane se aansoek van die hand gewys. Sy het gesê as die hof dié aspekte sou hersien, sal dit ’n vermorsing van geregtelike hulpbronne wees.

Phahlane word in die dissiplinêre proses daarvan beskuldig dat hy hom wangedra het toe hy van 14 Oktober 2015 tot 1 Junie 2017 as nasionale polisiekommissaris waargeneem het.

Hy was voor sy waarneming as polisiehoof die afdelingskommissaris van forensiese dienste.

Hy is op 7 Junie 2017 uit die polisie geskors ná bewerings dat hy tenderbedrog gepleeg en in ruil daarvoor motors as beloning gekry het.

Een van die klagte in sy tugverhoor is dat hy nie sy finansiële belang in vier voertuie verklaar het nie en dat hy daardeur ’n beleid van die polisie verontagsaam het.

Phahlane maak beswaar teen ’n inligtingsnota wat die polisie oor dié beleid uitgereik het.

Hy maak ook beswaar teen die geldigheid van twee ondersoek- en ouditverslae oor polisieaankope wat ter sprake kom in sy tugverhoor.

Basson het bevind dié verslae maak geen bevindinge oor Phahlane se skuld nie en benadeel daarom nie sy regte nie.

Die polisiebestuur het Phahlane se hofaansoek afgemaak as ’n poging om die tugproses te omseil en te keer dat die verskeie bewerings van wangedrag ten volle in die tugverhoor bespreek word.

Phahlane wil keer dat daar enige bevindings en sanksies teen hom kom, het hulle gesê.

Basson het in haar uitspraak gesê Phahlane het geen grondslag gelê dat die polisie hul magte misbruik nie.

Die howe sal net by ’n onvoltooide tugverhoor inmeng in buitengewone omstandighede en waar ’n onreëlmatigheid plaasgevind het wat ’n party in sulke verrigtinge ernstig kan benadeel.

Daar is geen feite voor die hof wat daarop dui dat die tugverhoor ’n growwe onreg sal meebring nie.

“Daar is geen rede waarom die dissiplinêre proses nie sy gang moet gaan nie,” het Basson bevind.

Die blote feit dat dit ongerieflik vir Phahlane kan wees om vir die uitslag van die tugverhoor te wag, is nie genoeg om dit deur die hof te laat hersien nie.

Brig. Vish Naidoo, polisiewoordvoerder, het op Rapport se navraag oor wanneer die tugverhoor hervat, gesê dis ’n interne aangeleentheid waaroor die polisie nie kan kommentaar lewer nie.

  • Phahlane en sy vrou, Beauty, is in Februarie 2018 in die handelshof in Pretoria aangekla van korrupsie, bedrog en geldwassery.

Die staat het beweer hulle het belonings soos voertuie gekry in ruil vir tenders aan ’n maatskappy om forensiese toerusting aan die polisie te verskaf.

Die staat het die klagte in Junie 2018 teruggetrek nadat die hof geweier het om die saak weer uit te stel.

Phahlane word tans saam met vyf ander polisiehoës in die handelshof in Johannesburg van bedrog en korrupsie aangekla in verband met ’n kontrak ter waarde van R84 miljoen waardeur blou ligte en ander toerusting in Gautengse polisievoertuie aangebring is.

Dié kontrak is in 2016 gesluit.

Meer oor:  Khomotso Phahlane  |  Polisie  |  Tenderbedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.