Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Oudpolisieman (80) naby Sassa-betaalpunt doodgeskiet

Die familie van ’n bejaarde oudpolisieman van Marquard in die Vrystaat glo hy is Donderdag doodgeskiet omdat dié “gevreesde taai” man hom waarskynlik teen rowers verset het.

Tieho Vincent Sompane (80), wat in 2005 uit die polisie getree het, is omstreeks 08:30 doodgeskiet toe rowers sy voertuig gekaap het.

Dit het gebeur nadat ses rowers toegeslaan het op wagte wat geld by die gemeenskapsaal naby die Marquard-polisiekantoor, wat as betaalpunt van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) dien, afgelaai het.

Polisiebeamptes in die aanklagkantoor het mense gehoor gil en is dadelik na die toneel. ’n Skietery het tussen die polisie en die rowers uitgebreek. Een rower is doodgeskiet en nog een is in ’n kritieke toestand.

Volgens Sompane se susterskind, Molefi Sompane, het sy oom voor die Shoprite U-Save-winkel naby die gemeenskapsaal in sy motor gewag vir sy vrou, Jerminah, wat haar toelae gaan haal het. Daar het die vier oorblywende rowers hom oorval om sy motor te kaap om van die polisie te ontvlug.

“Hulle het hom geskiet en in sy motor weggejaag. Die motor is later verlate gevind.

“Ons dink my oom is geskiet omdat hy dalk terugbaklei het of een of meer van die rowers herken het. Vir ons as familie het hy as ’n held gesterf,” sê Molefi.

Volgens hom is die familie baie hartseer. Die hele dorp, ook die boere-gemeenskap, huil oor sy oom, sê hy.

“My oom was sedert 1968 in die polisie. Hy was oud en ons het geweet ons sal hom eendag verloor, maar ons het nie verwag dit sou gister wees en op so ’n manier nie. Ons harte is seer. Die gemeenskap se harte is seer.

“My oom het jare as ’n polisieman met koeëls gewerk en nou is hy weens een dood. Almal op die dorp was bang vir my oom. Hy was streng en misdadigers het self in die vangwa gespring as hy hulle kom vang het,” sê Molefi.

Hy het sy oom as die steunpilaar, die juweel van die gemeenskap beskryf.

“Almal was lief vir hom. Hulde stroom in vir hom,” sê Molefi.

’n Wag van die Fidelity-groep, wat die geld afgelaai het, is in die been gewond en al vier die rowers wat weggekom het, is ook vermoedelik beseer.

Hulle het met ’n klein bedrag geld gevlug en word nog gesoek.

Meer oor:  Vrystaat  |  Marquard
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.