Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ouers, kinders in Uber gekaap
Die Caltex-vulstasie waar die kapers die pa van die gekaapte gesin se bankkaart gebruik het om geld te trek. Foto: Google

’n Bolandse egpaar wat Vrydagaand in Stellenbosch saam met hul twee kinders (albei jonger as tien) in ’n Uber-taxi gekaap en besteel is, is erg getraumatiseer en ontvang berading.

Gedurende die nagmerrie-rit het een van die kapers sy wapen op een van die kinders gerig.

Op Netwerk24 se vraag aan die Uber-maatskappy of die bestuurder (’n vrou) ’n poging aangewend het om die app se noodknoppie vir noodgevalle te druk, het ’n woordvoerder gesê dié inligting kan nie bekend gemaak word nie.

“Misdaad is ’n werklikheid in Suid-Afrika en ons moet op die wetstoepassers vertrou om die ondersoek te dryf,” lui ’n verklaring wat Uber uitgereik het.

Die gesin, wat anoniem wil bly uit vrees vir hul lewens, het Vrydagaand ’n geselligheid naby die stadsaal in Stellenbosch bygewoon.

Die pa het omstreeks 22:00 ’n Uber-taxi bestel en saam met sy vrou en twee kinders gewag. Volgens die Uber-app moes ’n grys Toyota Avanza hulle kom oplaai.

Volgens die pa het die motor opgedaag en hulle het ingeklim. Hy het gesê ’n mens let gewoonlik op na die tipe motor waarvoor jy wag en nie die nommerplaat nie, en hy het dus nie opgemerk dat daar nie nommerplate aan die voertuig was nie.

Die feit dat die bestuurder ’n vrou was, het hom ook gerus laat voel.

Ek het vir hulle alles gegee, ons selfone en bankkaarte, maar ek het vir hulle gesê ons het nie daardie geld in ons rekeninge nie.

Kort nadat die Uber-taxi hulle opgelaai het, het die bestuurder glo stadiger ry, waarna twee gewapende mans skielik op die voertuig afgestorm het.

Die pa het voor langs die bestuurder gesit en die twee verdagtes het aan weerskante van sy vrou en kinders op die agtersitplek ingeklim.

Albei was vermoedelik met 9 mm-pistole gewapen en een het ook ’n kombuismes gehad. Hul gesigte was nie bedek nie.

Hulle het die ouers gedreig en in ’n stadium ’n vuurwapen op een van die kinders se skouer gerig en gedreig dat as hulle nie ophou skree nie, sal hulle een van die kinders vat. Een van die mans het sy hand oor een van die kinders se mond gedruk en die ander het ’n vuurwapen op die vrou se kop gerig.

Volgens die pa het die twee mans verskriklik op hulle gevloek en geskree, en R50 000 geëis.

“Ek het vir hulle alles gegee, ons selfone en bankkaarte, maar ek het vir hulle gesê ons het nie daardie geld in ons rekeninge nie,” sê die pa.

Die Uber-bestuurder het in Merrimanstraat afgery en toe in Birdstraat in die rigting van Kayamandi.

“Hulle was toe minder aggressief, maar het my steeds elke keer as ek wou omkyk, gedreig en gesê ek moet voor my kyk.”

Die bestuurder het by die Caltex-vulstasie naby Koelenhof stilgehou, waar een van die mans uitgeklim het om geld uit die pa se rekening te trek.

“Die man wat agtergebly het, het baie geïrriteerd geraak en het die ander ou begin vloek omdat hy so lank gevat het om die geld te trek. Hy het teruggekom en gesê hy kon net R1 000 kry.”

Die Uber-bestuurder het toe na Kromme Rhee gery en die gesin daar afgelaai, en met die twee mans in die motor weggery.

“Ons was baie getraumatiseer en het na die naaste vulstasie geloop, waar twee mans wat bekend is aan ons, ons gehelp het,” sê die pa.

Die polisie is ontbied.

Kapt. F.C. van Wyk, polisiewoordvoerder, het gesê ’n saak van gewapende roof word ondersoek. Niemand is egter nog in hegtenis geneem nie.

Volgens ’n woordvoerder van Uber het die maatskappy uitgereik na die gesin. “Ons meegevoel gaan uit na die mense betrokke. Ons is in verbinding met die polisie en sal ons volle samewerking aan hulle gee,” lui die verklaring.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Kaping  |  Trauma  |  Misdaad  |  Vuurwapen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.